top of page
Uitmelkbos

ABEL VAT TOE SKRIK!


Die gewels wat Abel laat skrik vat het.


Voor Christo, die man in die saal, was daar Abel, Gert, Daniël, Pieter, Dumisa, Klaas en nog ‘n boel ander. Moenie skrik nie, dis maar net ‘n lysie van Tokkie se verwers in aansluiting by die vorige blog “Engel met die verfkwas”.


Een het uit lojaliteit die bure se verwende kat doodgemaak. Nog een het uit dankbaarheid ‘n potplant kom aflewer. ‘n Derde wou graag die veeleisende mevrou tevrede stel, maar uit senuagtigheid keer hy toe ‘n emmer water op haar kop om. So het elke verwer sy eie storie…


Abel is in dier jare 80 in Bloemfontein gekontrakteer om die Van Deventerwoning van kleur te laat verwissel. Een probleem: hy ly aan hoogtevrees en Genl. Van Schoorstraat 1 se hoogste gewels was nogal ysingwekkend ver bo die grond.


Onderlangs het Abel hom knap van sy taak gekwyt. Die eerste oggend toe hy die uitgerekte leer moet bestyg, begewe sy moed hom egter. Tokkie hoor die krete in die kombuis en hôl. Abel is driekwat teen die leer op en klou soos ‘n apie.


“M …..s (die aanspreekvorm wat voor die era van politieke korrektheid algemeen was vir vroue van die heerserklas), ek vang skrik!” Die uiteinde was dat Tokkie moes leer vashou vir ‘n vale en Abel paai-paai grond toe aanmoedig. Steierwerk is laat kom.


Vir Gert het sy op ‘n fiets in die straat sien ry toe sy n verwer nodig kry, en gehou van wat sy sien. Sy keer hom toe voor en vra: ”Kan jy verf?” Nee, hy’t nog nooit ‘n kwas in sy hand gehad nie. “Ek sal jou leer.”


Gert was ‘n leerder van buitengewone stoffasie. Nie lank daarna nie toe’t hy sy eie besigheid en hy verf als wat voorkom. Op dag kom hy by die huis aangery om met ‘n breë glimlag oor sy nuutgevonde voorspoed te rapporteer. Vir die leermeesteres bring hy ‘n dankie-geskenk: ‘n potplant.


Daniël was eintlik meer tuinman as verwer om doodeerlik te wees. Maar as die verfgier my vrou pak, sal sy in enigiemand se hand n kwas druk. Ewenwel, op ‘n dag tel sy ‘n groen ID-boekie in die straat op. Die foto verklap dit behoort aan Daniël.


Twee dae later daag Daniel op vir sy werkskof. Sy gesig hang. “Ek het my lewe verloor,” deel hy beswaard mee. Tokkie bring die groen boekie te voorskyn. Daniël se gesig helder op: “Ek het my lewe teruggekry.”


Die dankbaarheid stoot sy lojaliteit nog ‘n paar kerwe op. Na ‘n vakansie rapporteer hy trots dit gaan goed met haar wit waaierstert-duiwe. Almal is nog daar.


Die bure se kat het wel ‘n slag in die boom kom sit. Toe hy die kat bemerk, gooi hy hom egter met ‘n klip. Toe die kat die grond tref, slaan hy hom dood met die graaf en gaan begrawe hom in die agterplaas.


“Ek het vir hom gesê: ‘Jy sal nie weer vir hierdie duiwe kyk nie’”, sê Daniël – en hy lag “gie-gie” sonder tande oor sy daad van trou.


Die arme Pieter wat die emmer hier op Melkbos op T. Se kop omgekeer het, was na die embarasserende insident en die vuurwarm skrobbering lank skoonveld. Later het hy darem skoorvoetend weer kom verneem of vrede herstel is.


Dumisa, ‘n aangename werklose jong man met ‘n obsessie oor selfone, is in die verafgeleë Sabiepark deur T. in die verfkuns ingewy. Hy was ‘n ent weg in die slaapkamer toe hy onraad merk – die kleure verskil. Hy kon sy oë nie glo nie oor die slim vrou van Kaapstad se “boereraat” nie.


T. het luiters ‘n blik kitskoffie uit die kas gehaal en ‘n paar lepels ”na smaak” bygevoeg. Die kleur was daarna piekfyn.


Klaas was ‘n man met ‘n reputasie. Ek bel een dag die Diabetiese Vereniging in Johannesburg en in die loop van die gesprek laat val ek teenoor die destydse sekretaris, Japie Dreyer (nou ook al oorlede), dat ek (a) op Melkbos woon en (b) Tokkie besig is om die huis te laat verf. Jy kon my met ‘n verfkwasssie omtik toe hy ewe droog verneem: Wie verf jou huis? Is dit Klaas?


Dit was inderdaad Klaas. Hoe Japie dit in Johannesburg kon raai, het ek eers verstaan toe die boeke opval.


Japie was een van die bekende Dreyer-dinastie van Philadelphia met diep wortels op Melkbosstrand. Hy het dus geweet Klaas is ‘n verwer van faam in hierdie kontrei.


In sulke diep spore moet Christo nou stap. Die arme kêrel het minstens hierdie ou se simpatie – maar ek hou dit liewer diplomaties vir myself!

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page