
Moenie poer-poer nie. Dis geen nuwe les nie. ‘n Seldsame moordwalvis (orca) by Melkbos het my dit gister egter opnuut geleer.
Skuins na 15:00 het die foto hierbo van die ou grote van buurvrou Una Beukman op my skerm gekom. Hy/sy het naby Slabbert se klippe uitgespoel. Toe begin ek die foto rondstuur vir vriende en bly met allerlei besig tot 17:00 voordat ons gaan soek.
Niks gekry nie, maar vanoggend lees ons in Die Burger die verwydering was omstreeks 16:30. Ons moet net-net te laat gewees het.
Tokkie het moord in haar hart. Sy wou nog altyd ‘n walvis op die strand sien. Toe is hierdie eerste kans wat opduik boonop geen gewone walvis nie. Die vorige orca wat in Kaapse waters op terra firma beland het, was in die jare 60 naby Kapppunt – ook aldus DB.
My rekenaar-betotteldheid kry die skuld vir die gepoer-poer, en ‘n kans van ‘n leeftyd wat deur die vingers laat glip is. Mea culpa. ‘Skuus, my vrou.
Op Melkbos is ‘n lekker vis-eetplek met die naam Orca. Ek en my vriend Chris Moolman het
Dinsdagmiddag daar aan blouneus en silwervis gesmul, terwyl die Atlantiese Oseaan lui-lui aan die wit sand lek.
Toe spoel die orca gister ‘n hanetree van Orca af uit!
Tokkie se luim het later verbeter. ‘n Stuk of vyf walvisse – noorkappers, het ons aanvaar – het teen skemer in die waters voor ons huis le en skommel, hul sterte geswaai en geblaas.
Dit was maar die tweede lente-aand dat ons buite kon sit met my koue wyntjie en T. se whiskey op ys. So windstil was dit dat jy ‘n stuk voeltjiedons op die heining kon neersit. Dit
sou net daar bly le het.
Gelukkig het die “idiote in hul bote” gisteraand ook weggebly. Die verbete, indringerige walviskykers is nie juis groter vriende van die natuur nie as die spul wat so ‘n skrikbewind onder die land se renosters voer.
Comentarios