Vyftig jaar gelede: Dirigent Jan Lombard (links) en skrumskakel Proppie Goosen.
Haai, Maties, julle is mos die bakermat van Suid-Afrikaanse rugby?
Vanaand is die mat onder julle uitgeduik, huh? Nou sit julle op julle bakers (blakers)!
So hoor ek in my verbeelding ‘n Tukkiedirigent koggel. Die Tukkie-skare, ‘n see van blou, rooi en goud, jil van lekkerkry.
Dis gisteraand se varsity-eindstryd wat die ou man se gedagtes op loop gesit het…. op ver paaie terug. Niks is mos vir ‘n Tukkie lekkerder as om ‘n windgat-Matie in stilte te sien buig voor sy meerdere nie!
Kom ons skakel die tydmasjien aan en projekteer gisteraand se wedstryd terugwaarts: tien, twintig, dertig, veertig … vyftig jaar terug.
L.C. de Villiers is nog te nuut en karig vir so ‘n bulwedstryd (watter meneer van ‘n rugbystadion is dit nou?). Die manne speel nie op die proefplaas nie, maar op Loftus.
Die dirigent wat lyk of hy in die room geval het, is die galante mediese student Jan Lombard en sy assistent die kordate Kollegman Vlooi van Rooyen. Jan het ‘n swaelstert aan, pluiskeil op die kop, en spog met ‘n enorme Tukkie-roset op die lapel. Groot soos ‘n reusepizza.
Hy en die skone Marguerite Deale, joolkoningin, klink voor die afskop op die veld ‘n glasie met hul Matie-eweknieë. Sy is die mooiste langs die veld. Die universiteitsliedere word plegtig gesing.
Sommer vroeg-vroeg slaan die Tukkie-skrumskakel ‘n bres. Dis die ratse Proppie Goosen van Kirkwood af, ook ‘n Kollegeman, wat die Maties lug laat gryp. Van die losskrum vlieg die bal langs die lyn af. Johan (Piepies) Pieterse rond af.
A-ra-ra-ratio, hef Jan Lombard opgewonde die strydkreet aan.
Ru-ra, antwoord ons soos een man.
A-ra-ra-ra-ra-ratio!
Ru-ra! Ru-ra! T.U.K … yeah Tuks! (Wanneer sou die kreet tog gesneuwel het? En hoekom?)
Die Maties probeer bra wankelend die “Besem” sing: Ons vee daar mee, ons vee daar mee, die Tukkies in die see.
O wee!
Dan korrel Nic Bojé. losskakel (en nog ‘n Kollegeman), ‘n skepskop pale. Suiwer! Hy het gisteraand oor ‘n biertjie by Ta’ Bella mos voorspel: “Bojé skop, die Maties huil!”
Die Tukkies sing hul kele hees, een ingehaakte, wiegende, rooi-blou-en goue see:
Laat elke ou Tukkie se glasie vol maak,
Wie wil dan water hê?
Wie wil dan, wie wil dan, wie wil dan hê,
Wie wil dan water hê!
Die eindfluitjie blaas. Tukkies wen ver.
A-ra-ra-ratio, dreun die ganse Pretoria-Oos.
Ru-ra, weergalm dit uit duisende kele.
Lekker ou dae.
Een ding oor vyftig jaar later, en dit ter ere van die Tukkie- en Matiespelers: al is die kreet dan daarmee heen, lyk hulle nog soos ons gelyk het. Presies. Kyk maar Proppie se trui en kouse hierbo. Gelukkig het die Jakarandas nie almal pienk getoor nie!
Die Maties se maroen is eweneens soos gister en eergister se maroen … nie ook, soos mamma W.P., hul beroemde streeptruie se strepe gaan staan en “moderniseer” nie.
Nee, dit was Tukkies en Maties op die veld. Tradisiesvas in minstens hierdie een opsig.
Al doen die name van die spelers plek-plek ietwat vreemd aan: Clayton Blommetjies op heelagter, nie Fanus Botha nie (Blommetjies, jou breker!), Draghoender op senter en Groepies op vleuel …
Maar, mooi manne, julle is almal die ou gryse Tukkie se helde. Ek neurie al van vroeg af: Die Tukkies wen, die Tukkies wen, die intervarsity ……
Comments