Intervarsity 1961. Tukkies se dirigent, Jan Lombard, staan regs. Die pragtige Tukkie-joolkongin, Marguerite Deale, is naaslinks.
Nog Vrystaat, nog Pukke, nog Wits sal die boenga-boesjiewa ooit laat swyg nie ….
Iets in hierdie trant het ons Tukkie-generasie van rondom 1960 uit volle bors gesing (volle borste, soos Oom Oubaas van Sewende Laan sou sê) as ons in ons gestreepte kleurbaadjies die hoofpaviljoen vol sit by intervarsity.
Ek spel boenga-boesjiewa feitlik honderd persent seker verkeerd. Ek het ook nie meer ‘n benul wat dit beduie het nie. Maar dit het ons Tukkies laat gloei van trots. Vir seker. Daarna het ons ge-Aa-ra-ra-ra-raa-ratio! Roera! dat die paviljoen dreun.
Die hoofpaviljoen was natuurlik nie normaalweg vir ons beskore nie. Watter student se sakgeld kon daardie dae sulke luukses bekostig? Maar intervarsities het die helfte van die hoofpaviljoen aan die Tukkie behoort en die ander helfte aan die Witsies.
Die Tukkieliedjies het ek (wat nie juis ‘n sanger is nie) almal van buite geken. Ons en die Witsies het mekaar entoesiasties probeer doodsing en met spitsvondighede gekoggel terwyl ons helde die stryd op die veld uitspook. Die dirgente was deftig uitgevat in satynpakke met pluiskeile op die kop.
Voor intervarsity het ons aand vir aand ons “sing-songs” op Loftus gehou wanneer ons neuse eerder in die boeke behoort te gewees het
Die heerlike herinneringe spoel terug as ek op Supersport Varsitybeker-rugby sit en kyk.
Wat lekker is: die Tukkies lyk nog soos Tukkies met hul wit truie, wit broekies en die bande van blou, rooi en goud op hul truie en sokkies.
Wat nie lekker is nie: waar is die ou Tukkieliedjies en Aa-ra-ra-ra-raa-ratio? Watse ge-“rock” is dit dan nou by deesdae se rugby?
Wat selfs nog minder lekker is: dis maar ‘n ou liggewig-spannetjie wat nou vir die Tukkies uitdraf. Wie skrik vir hulle?
Hoe anders was dit nie? Toe was dit nog ‘n nasionale skande as die Tukkies verloor – soos in 1961 wel gebeur het, ondanks ‘n Anton Prinsloo-breekslag wat so verbluffend was dat ek, wat toe al ietwat dof was van die baie bier, weke later in die fliek op “African Mirror” eers gesien het hoe hy deur die Witsies sny!
Later jare was die Tukkies en die Maties lank die bulle van studenterugby – dan wen die een, dan die ander.
Maar nou’s die Pukke die Tukkies oor. Die Maties, Ikeys en Shimlas wag …
Iets “too ghastly to contemplate” het met Tukkierugby gebeur. Hul skrum is soos ‘n ou vrou se dans, hulle tekkel maar effentjies, en iemand wat soos Anton Prinsloo kan breek, het ek nie onder daardie klompie gesien nie.
Dalk is dit ook maar goed dat die huidige geslag toekouers liewer hul gesigte be-verf en in verleidelike kort rokkies rondhuppel as om diep uit die keel
Aa-ra-ra-ra-raa-ratio! was ‘n trotse kreet.
Comentários