Ek hol tans my gat af, en sukkel dus om tyd te maak vir resensies. Ek geniet egter my werk, so, voor ek verder in die nie-holte van werk vasdraf, moet ek gou oor Hol skryf sodat ek die lam gevoel in my agterwêreld kan afskud.
Ja, Hol gaan oor woordspelings, maar ook oor meer as dit.
Vir ’n hele uur lank is Nicola Hanekom op daardie trapmeul. Sy hol en sy praat oor die holtes in haar siel.
Jip, sy hol al vandat die gehoor opdaag en hulle plekke inneem. En dan hol sy tot die einde toe. Sy’s fiks, dis verseker.
’n Mens moet erken Hanekom kan hol! Wat meer is, sy het die stuk self geskryf.
Hol is nie maklik nie, maar daar is talle ligte oomblikke in die stuk. En, hoewel die probleem van eetversteurings en seksuele misbruik ter sprake kom, voel jy as lid van die gehoor nooit dat jy wil uithol nie.
Ons is opgevoed, sien.
Mense wat van Maya Fowlers se roman The elephant in the room gehou het, sal ook by Hanekom se stuk aanklank vind. Dit is belangrik om mense se obsessie met hulle lywe aan te hoor. In Theo Kemp se Skool is daar ’n hoofstuk wat ook handel oor meisies en hulle eetversteurings. Hier beleef ons dit vir ’n hele uur lank.
Hanekom verdien ’n kopknik en applous vir die skryf van die stuk en vir die manier waarop sy die hoofrol speel.
Ondersteun Afrikaanse teater. Dis dalk nie vir altyd daar nie.
Hol speel in die Kunstekaap en is nog aan tot 2 Desember. Nicola Hanekom is die dramaturg en sy speel ook die rol. (Sy is alleen op die verhoog.)
Die tegniese span lyk só: Regie Fred Abrahamse Ontwerp Marcel Meyer Hol word aangebied deur Kunstekaap. Dit is ’n projek van die Kunstekaap se Nuweskryfprogram. Die stuk word ondersteun deur die Nasionale Loteryverspreidingtrustfonds en die Nasionale Kunsteraad.
Comments