top of page
  • Uitmelkbos

50 JAAR OP DIE SILWERDOEK

Aan die begin van die “Swinging Sixties” – overgesetsynde die losbreek-dekade ná die stywe-boordjie 50’s– is my persoonlike “losbreek” gekenmerk deur ‘n jaar of drie van intense bioskoop-bedrywigheid.

Populêre flieks, soos Psycho, Breakfast at Tiffany’s, Spartacus, Lawrence of Arabia, Dr. No, West Side Story en Some Like It Hot, het hierdie chroniese fliekvlooi, tot nadeel van sy studies, in Pretoriase bioskope laat boer. Romantiese roomkoek-rolprente, soos Pillow Talk en Roman Holiday, was ook groot trekpleisters, waarheen “asters” graag “gesleep” is.

Ons Kollegemanne (inwoners van Tukkies se Kollege-tehuis) het altyd by die loket die goedkoopste kaartjies gekoop. In die donkerte het ons dan stilletjies na beter sitplekke agter probeer sluip. Met die wakker plekaanwysers, gewapen met priemende toortse, in die ornate Capitol was ons ná ‘n slepende kat-en-muis-speletjie hieroor ten einde laaste skaakmat.

Temamusiek uit rolprente, soos The Magnificent Seven, Moon River, Summer Place, en Never on a Sunday het treffers geword tot vandag toe.

Beeldskone sterre soos wyle Marilyn Monroe (1962), Grace Kelly (1982) en Audrey Hepburn (1993), Elizabeth Taylor (nou 77), Gina Lollobrigida – La Lollo (nou 87), Sophia Loren (nou 74) en Ursula Andress (nou 72) het ons studentebrigade om verskillende redes gaande gehad. Die oulike Doris Day (nou 84) en Debbie Reynolds (nou 76) was “rolmodelle” waarteen ek die Tukkie-asters heimlik (onregverdiglik) opgeweeg het.

Die Franse sekskat Brigitte Bardot (nou ‘n uitermate beplooide 74) het ons die Monte Carlo-bioskoop in Hatfield laat vol pak in die hoop op ‘n glimpsie geheime lyf. In And God Created Woman is ‘n kaal bolyf vlugtig uitdagend na die kamera gedraai. Ai, ai. ‘n Opgewonde fluistering het deur die teater getrek. “Liewe Here!” het iemand uitgeroep.

Later in die dekade moes ek teen wil en dank na Bloemfontein om uitgestelde beursverpligtinge te gaan nakom. Vir die jong verslaggewer was fliekkans skielik veel skaarser.

Die oes van die laat-60’s was steeds meesleurend. The Sound of Music; Doctor Zhivago, Butch Cassidy and the Sundance Kid; Cool Hand Luke; Midnight Cowboy; From Russia with Love, The Great Escape en Wait Until Dark móés eenvoudig gesien word.

Lara se tema (Somewhere My Love) uit Doctor Zhivago en Zorba se energieke dans uit Zorba The Greek is rolprentmusiek van die laat-60’s wat vasgesteek het.

Die rolprent Zulu is in die 60’s in die Drakensberg verfilm en Van Deventer is as verslaggewer daarheen gestuur om oor die fliekmakery berigte te skryf. Die kykie agter die skerms (en die paar dae weg van die kantoor!) was verfrissend. Uiteindelik onthou ek “Zulu” by uitstek oor ‘n skrobbering deur ‘n taal-sadis. My een berig het begin met: “Reuse bleekgeel vlamme …” Dit het gelei tot ‘n dissertasie op die swartbord in die subkantoor waarop simpel foute uitgewys en regte taalgebruik ingedril is. Die subs het my inlei verander na: “Bleekgeel reuse-vlamme … “

Die stelselmatige afkoeling ná my studentedae het, hoofsaaklik weens oplaaiende werkseise, in die 70’s eensklaps ‘n amperse volslae breuk met bioskope gebring. Vir rolprente soos Titanic, Superman, Jaws, The Godfather, Lord of the Rings , E.T., One Flew Over the Cuckoos Nest en The Exorcist, asook vir alle James Bonds, Alfred Hitchcock’s en Carry On’s sou ek nog uit my pad gaan, en Jamie Uys of Emil Nofal se Afrikaanse skeppings het ek nie sommer oorgeslaan nie. Ek was egter sterk op pad om die fliek-analfabeet te word wat ek in die 80’s en die 90’s bepaald was.

Ná aftrede in 1998 het die tyd nie meer ontbreek nie. Trouens, tyd is die een bateklas waarvan ‘n afgetredene volop besit. ‘n Afslagkaart vir seniors is selfs aangeskaf. Om sommer net op die stoep te sit en vir die see te kyk, of die periodieke bos-wegbreke op ons program, is egter op my voorkeurlys van lekker dinge ver bo fliek op die ranglys (Die onnodig harde musiek en alewige vloekery speel gewis ook ‘n rol.)

As iemand nou ‘n rewolwer uitpluk, in eg-Hollywoodse styl die loop teen my slaap druk en dreigend sou sis: “Noem die flieks wat jy na aftrede gesien het”, sou ek spartel. Wat spontaan opkom, is Lord of the Rings, The Pianist, Slumdog Millionare, Chicago, Casino Royale, The Departed, Schindler’s List en Earth.

O-ja, en dan enkele kunsflieks waarvoor ek van Melkbos na Claremont of die Waterkant moes ry, soos Edith Piaf en As It Is In Heaven.

Die besluitnemingsproses vat om die een of ander rede nogal tyd vandat ons die eerste keer van ‘n fliek gelees of gehoor het tot die konsensus bereik word: “Kom ons gaan.” Oor die hoog aangeskrewe District Nine van regisseur Neill Blomklamp het ons lank getob. Ondanks al die lofuitinge van resensente was daar ‘n knaende skeptisisme oor die buitensruimse “Prawns” se dinge hier te lande.

Daar trek ons toe uiteindelik op ‘n Woensdagoggend. Maar ons sit en ons sit. Niks gebeur nie. En dis klaarblyklik nie Eskom se skuld nie, want die ligte brand.

Later word ‘n verkenner uitgestuur. Hy keer met nogal verstommende nuus terug. Die kêrel wat die die projektors se knoppies moet druk, het nie opgedaag vir werk nie. Hy antwoord ook nie sy selfoon nie. Niemand anders by die Ster-Kinekorteaters in Bayside, Table View, het ‘n benul hoe die spulletjie aan die gang gesit moet word nie.

Ons moes mooitjies gaan tou staan vir kaartjiebewyse vir later. Selfs jou pak springmielies en jou “coke” kon jy vir geld omruil as jy wou.

Agterna dink ek: dis nogal iets, nie waar nie, om ‘n hele fliekkompleks – agt teaters – só tot stilstand te laat knars bloot deur jou selfoon af te skakel!

Iewers het ek gelees dat iemand se onvervangbaarheid gemeet moet word aan die gat wat oorbly as hy sy hand in ‘n emmer water druk. Wel, in die geval van die afwesige operateur was daardie gat aansienlik. Die besef van die mag in sy vingers moet hom mateloos opgekikker het. Ek gun hom sy oomblik van glorie.

En District Nine? Nee, ons het toe nooit gaan kyk nie. Vriende wie se oordeel ons vertrou, het ons afgeraai.

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page