Vir die somervakansie van 2020 het Sabiepark sy beste voet voorgesit: ‘n sprankelende lushof van milde groen; temperature van selde oor die vroeë 30’s; lekker, harde reën; perfekte braai-aande; Piet-my-vrou wat die hele maand bly roep soos nooit tevore. Eers hier teen die einde het die veld smiddae begin vaal raak. Nog reën sal van harte welkom wees.
By Tarlehoet is die nuwe blink elektriese yskas ingewy – ons eie “Taj Mahal” – aanvanklik nie so vlot nie, later seepglad. Bonus: alles wat moet koud wees, is koud. Niks – nie eens die bederfbaarste suiwel – gaan meer verlore nie. Die sonkrag-stelsel bult nou sy spiere met vier batterye en ses panele. Sal graag Jacob se kommentaar hoor. Ook nuut: op die vloer van die woonkamer is dit net wildebeesvelle danksy Brent, die jagter. Lyk spiekeries.
Die ou krom knoppiesdoring by die kombuisvenster het uiteindelik gesneuwel. Iets van ‘n ikoon gewees, maar sy tyd was regtig verby. ‘n Klomp hout is herwin, asook hope bas. Ons gaan GROOT vure maak. Vraag is net: wie gaan daai stompe opkap? Wonder of Christopher kans sal sien.
Die maroela langs die huis het die eerste keer gedra. Effentjies maar darem. Jy hoor die vrugte op die dak val en sien hulle op die grond. Hoop nie dit raak ‘n verpesting nie.
Cas en Nella Jacobs het vyf dae uit Centurion kom kuier. Hul spore lê wyd op hierdie stukkie aarde sedert 1998 al. Goed gewees om weer saam met die twee beskaafde fynproewers saans by ‘n vuurtjie te sit en ‘n pimpeltjie pienk jenewer met ‘n skyfie komkommer en suurlemoenskil te geniet.
Aan die dierefront is die “geur van die maand” steeds die swartwitpense. Ongetwyfeld. Ons was gelukkig om die nuwe statussimbole van naby te sien. Deur die heining van die pad af, maar nietemin. Kyk my foto’s. Vyf najala-ooitjies loop saam. Was ook hier rond. Het een oggend wakker geword met kameelperde net waar jy kyk: as ‘t ware deur langnekke omsingel. Amper weer soos daardie ander oggend lank-lank gelede. ‘n Stewige trop rooibokkies het agter die huis kom slaap. Nagapies was egter skaars.
Die gebruiklike slangepisodes het nie uitgebly nie. Tokkie – weer sy – het enetjie teen die muur in die stoorkamer gewaar en hom uitgeboender. Koebaai Meraai. Die tweede enetjie het ons by die wegpak ontdek. Klaar kaduks. Houtgerus (dié is vir Johan en Mariza) het ta hom op ‘n stoepstoel onder die kussing tuisgemaak. Toe kom een van die huisbewoners, onwetend, met volle gewig op hom neer. Te oordeel na die addertjie se graad van platheid kon dit die vader des huises gewees het. Baie waarskynlik.
Op ‘n vet skerpioen teen ‘n muur in die gastebadkamer het dieselfde lot gewag as die slang in die stoorkamer. Komplimente van Tokkie se kookwater-nagflits.
Amper was daar nog ‘n koebaai toe ‘n rooikophoutkapper teen die slaapkamervenster vasvlieg. Dood soos die spreekwoordelike mossie. So het dit altans daar op die trappies langs die swembad gelyk. Arme ding. Skielik kom voël se kind egter orent en skud sy vere reg. Daar vlieg hy as ‘t ware uit die dood op. Hoër en hoër. Sou dit nie geglo het as ek dit nie met my eie oë aanskou het nie.
Nes die Piet-my-vrou was die Bosveldvisvanger op sy gewone somerbesoek. Altyd besonders om te hoor as hy die reën so roep: “Tjip-trrrr.” Bloukuifloeries was, soos gewoonlik, gedurig hier. Die geroep van die vleiloerie en die vis-arend het saam met die heerlike gedruis van die Sabierivier hier aangesweef gekom en die hartsnare geroer.
Die swembadjie was weer sy gewig in goud werd, soggens, smiddae en saans. Gee hom summa cum laude. Wat sou Tarlehoet tog gewees het sonder sy swembad?
In die wildtuin was ons minnerig. Raak lui om te ry. Niks vreeslik buitengewoon in ons “buurman” gesien nie. Darem ‘n uitgestrekte luiperd op ‘n klip en ‘n leeu in die pad. Ons het vier van die Vyf Grotes op ons telkaart; mis net die renoster (hierdie ter wille van Thomas!). Tokkie was ingenome met die sterkbos wat so briljant blom. Ons het Andrew en Christine Murray van Bloemfontein by hul hut in Skukuza gaan oplaai en by die gholfklub ietsie gaan geniet. Lekker oudag-herinneringe opgediep. Dan was daardie doop darem ook baie spesiaal. Lees die vorige blog.
Kan nie die versoeking weerstaan nie om more se datum as opskrif te kies: 02-02-2020. Tokkie was so wakker om die besonderse syfer-konfigurasie dae gelede al raak te sien.
Naskrif: In die wassery is ook ‘n nuwerwetsigheid: twee moderne wasmasjiene. Al die knoppies en liggies laat dit vir Tokkie lyk soos ‘n Boeing se kajuit. Sy hou van eenvoudiger dinge.
コメント