Tot my ewige verleentheid as senior koerantman in die 80’s het ek waaragtig nie geweet “Gimme hope, Joanna” (“Give me hope, Joanna”) was ‘n struggle-lied, vol pikante kruisverwysings en kodes na apartheid en na simbole van daardie era nie. Joanna self is g’n meisie-meisie nie maar Johannesburg (as simbool van wit oorheersing).Soweto, opstande en druk op die Regering kom in die lirieke voor.
As jy mooi luister, hoor jy Eddy Grant (later ook Doctor Victor en die Rasta Rebels) sing met onderbeklemtoonde bitterheid van die “system they call apartheid.” In die video maak ook die gewraakte dompas en net-blankes-bordjies hul buiging. Die SAUK het die lied in die 80’s verbied, omdat dit as aktivisties geag is, soos die lied “Another brick from the wall”.
Diegene wat geweet het, moet ons agterosse tog maar vergewe. As gebaar van skuldbelydenis oor my growwe naïwiteit en onkunde laat ek nie gras onder my voete groei om my nuutgevonde kennis hier te deel nie.
Dit is ook nie die enigste populêre liedjie wat hiedie ou heel verkeerd verstaan het as verwysende na ‘n meisie nie. ‘n Ander een is Neil Diamond se lekker “Cracklin Rosie” My indruk was hy sing van ‘n los meisie soos die oorlogstydse “Lili Marlene”. Redelik onlangs het ek agtergekom die onderwerp is ‘n Kanadese huiswyn (tuis gegis) met ‘n vonkel (crackle). Rosie beteken maar net daardie doppie (‘n witsblitserige rosè) wat sekere Kanadese Indiane graag drink as die manne, wat in daardie stam die meerderheid is, die aand sonder vroulike geselskap saamkuier.
Misluister na lirieke het al tot vele misgissings gelei. Een storie wat oor die wêreld al die status van stedelike legende verwerf het, is van die kind wat “Gladly my cross I’d bear” in ‘n gospel-lied gehoor het as “Gladly, my cross-eyed bear”. Toe noem sy haar skeel teddiebeer Gladly.
Cecile Cilliers het in ‘n rubriek vertel sy het die strofe “Satan baas te raak” in ‘n Hallelujalied lank gesing as “Stambastera”.
Soms word lirieke se woorde doelbewus verwring, soos in daardie liedjie wat ons graag op skool gesing het: “Valencia, wie de hel het jou vertel die Jood se neus het nie ‘n vel”. Op Bultfontein het Tokkie-hulle die Jood se neus, die Jood se pens gemaak. Dat die woorde hul oorsprong in die Joodse besnydenis van die Ou Testament het, het sy eers ná ons huwelik te wete gekom. Moet nou nie vrae vra nie.
Op Tukkies het ons gesing van ‘n meisie wat die water instap: “She stepped into the water and she got her ankles wet”. Al hoër op het sy gewaad – “but she ain’t got her … fluit … wet yet”.
Later het ek gehoor dit is die “Battle Hymn of the Republic” – “Glory, glory, Hallelujah” – se wysie. Nou sing ons gemeente dit met oorgawe Sondae as die “Oorwinngslied”. Kan nie anders as om ‘n bietjie skuldig te voel oor ons studentikose ligsinnigheid nie.
Nie ligsinnig nie, net naïef soos HvD oor Joanna, was die SAUK-luisteraar wat die versoek aangevra het: ” ‘n Sterfgeval in die hemel”. Omroeper Danie Erasmus wat onlangs oorlede is, het my daarvan vertel. Die lied ter sprake was “A star falls from heaven”.
“Julle moet jul ore oopmaak, vreksels,” soos Johan van Wyk altyd in “Stop van Myne” vermaan het.
Comments