Annelise Erasmus skryf oor Skarlakenkoors, saamgestel deur Peter van Noord en Karin Eloff. (Boeke24) Bundels erotiek skep altyd ’n probleem vir resensente. Beoordeel jy die gehalte van die skryfwerk, of die mate waarin die inhoud jou prikkel? Omdat mens dit min of meer as gegewe kan beskou dat iets wat deur die hande van Peter van Noord en Karin Eloff is, op ’n aanvaarbare skrywerspeil sal wees, laat dit jou met een uitweg, en dit is om die bundel te meet aan sy prikkeling. Annelise Erasmus se respons is een van die vindingrykste reaksies op hierdie dilemma wat ek nog gelees het. Volpunte vir die manier waarop sy dit baie duidelik maak dat die inhoud haar geprikkel het – asook vir die manier waarop sy die aandag tot by die laaste evokatiewe sin hou. Hierdie keer kan niemand wat tot die bundel bygedra het, kla oor die aandag wat die resensent aan die hele bundel gegee het nie. Meer sulke resensies, asseblief tog!
Marius Crous skryf oor Die rooi veer in Vasco se hoed, deur Rosa Smit. (Boeke24) Dit is verkeerd om hierdie resensie te vergelyk met die een van Skarlakenkoors, wat net bo dit op die boekeblad verskyn het – maar mens kan nie anders nie. Dit is sekerlik feitlik onmoontlik om met selfs ’n geringe mate van opgewondeheid digbundels te resenseer – die vakgebied dwing die resensent tot ’n nugter, objektiewe aanpak. Crous se resensie val op omdat hy so besonder onopgewonde is oor die gedigte. Dit is geen verrassing wanneer hy teen die einde verklaar dat hierdie bundel nog nie gereed was vir publikasie nie. Die vraag ontstaan ongelukkig dan ook by my of dit nie wenslik is om die resensie baie in te kort nie. In die ganse leespubliek is daar net een persoon wat werklik baat vind by die uitvoerige skrywe van Crous, en dit is digter.
Marietie Louw-Carstens skryf oor Die Modimolle monster, deur Karyn Maughan en Shaun Swingler. (Boeke24) Soms vind ek my in die posisie dat ek absoluut geen belangstelling in die onderwerp van ’n boek het nie. Om dan ’n resensie daaroor te lees, is vir my net so oninteressant as om die boek self te lees. As die resensie knap geskryf is, hinder dit nie. Is dit swak aangepak, eskaleer mens se irritasie vinnig. Die enigste slotsom waartoe ek ná die lees van hierdie bespreking kon kom, is dat Marietie Louw-Carstens baie goeie maniere het en met ’n omweg tog laat deurskemer wat sy van hierdie boek dink: Prul.
’n Algemene vraag: Gaan Rapport se boekeblad herstel?
Comments