top of page

VINNIG MET DIE NUUS

Uitmelkbos

Britse telegrafiste en telefoniste stuur oorlogsnuus huis toe uit die slagveld in die verre Boererepublieke. (Uit: “The War Correspondents, The Boer War”).

Ek kruis nie graag swaarde met Leon Rousseau oor Racheltjie de Beer nie, want ek deel sy deernis vir dié stukkie dierbare volksbesit (By, 6 Oktober). Dat hierdie voorste gesaghebbende oor Eugène Marais instinktief beskermend van Marais reageer, is goed te verstane. Hy openbaar in “Die Groot Verlange” immers ‘n diepe gevoel vir daardie komplekse genie.

Rousseau se reaksie op G. Olwagen en Leo Kritzinger se boeiende teorie onderskat die sofistikasie van interkontinentale kommunikasie in die sogenaamde “Roaring Twenties” egter op verrassende skaal. Nuus is allermins in 1921 nog met rookseine, posduiwe, poskoetse, tjoek-tjoek-treine of selfs ouderwetse stoombote versprei!

Trouens, die dinamiese jare ’20 – deur die Franse ook kleurryk “années folles“ of “Gekke Jare” genoem – was ‘n era van ontwaking. Die lewe het woema gekry. Snelle vordering op die gebied van o.m. die outomobiel, telefone, telegrafie, rolprente, elektrisiteit, die perswese en, les bes, jazz het die lewenstyl gekenmerk.

Dat dit ‘n tydskrif uit Noord-Dakota dalk toe nog weke of maande kon vat om Suid-Afrikaanse bodem fisiek ter see te bereik, is goed en wel. Maar nuus het vars geword. Dié is al geruime tyd deur nuusdienste soos Amerika se Assosciated Press of Brittanje se Reuters oornag of vinniger kletterend tussen hoofstede geblits. En die Minerstorie was, volgens elke definisie van nuus, ‘n treffende berig wat waarskynlik nie lank in ‘n enkele streekblad versteke sou bly voordat ‘n nuusdiens dit raaksien nie.

‘n Mens sou selfs kon beweer dat die wêreld in 1921 al met rasseskrede op pad was om ‘n “global village” te word. Samuel Morse het 80 jaar tevore, in 1835, al almal verstom met sy tegniek om seine telegrafies oor groot areas te versprei. In die 1840’s is die eerste eksperimentele telegraaflyn van Washington na Baltimore gebou. Die Associated Press dateer uit 1846, weliswaar aanvanklik as ‘n “snelroete” met ponies deur Alabama om nuus van die Meksikaanse Oorlog vinnig in New York te besorg; weldra ‘n veel doeltreffender nuusdiens. Reuters is in 1851 in Brittanje gestig.

Ponies is gou deur die telegraaf vervang. Telegrafiese oorlogsberiggewing van die front af is net agt jaar na AP se stigting die eerste keer in die Krimoorlog (1854-56) ingespan. In die Anglo-Boereoorlog (1899 – 1902) was dit hoegenaamd nie meer ‘n nuutjie nie. Die outeur Raymond Sibbald gee in sy boek “The War Correspondents, The Boer War” (Jonathan Ball, 1993) ‘n insiggewende beeld hoe oorlogskorrespondente (onder wie Kipling en Churchill) lesers uit die verre Boererepublieke ingelig gehou het, as’t ware met hul woorde in die reuk van rook en kruit gedoop.

Selfs die “moderne” landlyn (versending van foto’s per telegraaf) is nie so modern nie. Dit is ‘n produk van 1935 – ‘n skrale 15 jaar nadat die aangrypende Hazel Miner-storie, volgens Olwagen en Kritzinger, net dalkies in ‘n verwerkte gedaante in “Die Boerevrou” opgeduik het. Die Tweede Wêreldoorlog (1939 – 45) kon koerantlesers ook op foto’s grafies uitgebeeld sien.

Hierdie historiese gegewe bewys natuurlik nie daardie twee ondersoekende geeste se teorie nie. Wat dit onteenseglik bewys, is dat Rousseau liefs nie die moontlike konneksie tussen Hazel Miner en Racheltjie de Beer op grond van ‘n wankelplank-argument soos destyds se stadige skeepsverkeer moet bevraagteken nie.

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Bình luận


© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page