Alle as is nie verbrande hout nie. Een soort word by krematoriums gegenereer en word, op versoek, gewoonlik by ‘n gunstelingplek van die oorspronklike besitter van die verbrande materiaal gestrooi. Langs die kus, op ‘n berg, in die bos, in die woestyn, op ver paaie – solank aan die bestemming vir die oorledene romantiese herinneringe kleef.
Sommige voorkeur-bestemmings is nie net eksoties nie, maar ook avontuurlik. Ek het ‘n vriend, ‘n motorfiets-entoesias, wat niks anders vir sy as begeer nie as dat dit uit ‘n valhelm in ‘n kloof uitgeskud word terwyl die Harleys en die Gold Wings volspoed bly voortdreun.
Gister, wanneer lees ek in Die Burger oor ’n laaste rusplek ‘n nogal ongewoon nie-eksotiese wens. Die oorledene wil doodgewoon na sy agterplaas toe, daar tussen die beendere van die honde wat na aan sy hart was, en wat nou ook al in die onstuitbare proses vasgevang is om tot stof terug te keer. Sy seun tipeer sy pa as maar altyd ‘n “stoutgat”.
Gewoon of ongewoon, die laaste wil van ‘n geliefde oor wat van sy of haar hopie as moet word, is gewoonlik vir die treurende naasbestaandes soos ‘n bevel. Ek ken niemand wat so hardvogtig is dat hy of sy willens en wetens so ‘n vertroetelde hartewens in die wind sal slaan nie.
Of dit nou beteken jy moet ver ry, pieke bestyg, gate grawe, op ‘n “rally” gaan of sommer die assies in ‘n gunsteling-blompotjie op die kaggelrak uitstal, gewoonlik kan die oorledene in relatiewe vrede rus dat elke haalbare opdrag oor die hantering van die stoflike oorskot met respek en deernis tot op die titteltjie deurgevoer sal word.
‘n Teken van die tyd is die sogenaamde Muur van Herinnering waar die nissies in ‘n ry by ‘n kerk of elders ingeryg sit. Een voordeel is dat jy nie deur jou medemens ingeasem word nie – ‘n diepliggende aversie van my vrou, Tokkie, wat by voorbaat oor daardie bose gedagte aan die ril gaan, veral as die Kaapse winde so waai waar hulle wil.
‘n Tweede verdienste van die nis-opsie is die bestaan van ‘n relatief permanente adres waar die nageslag in tere herinnering die hoof in eerbied kan gaan buig of by geleentheid – soos Vaders- of Moedersdag – ‘n blommetjie kan neersit.
My eie nis is langs die NG kerk Melkbosstrand. Dis nis nommer 11, soos my huis in Penguin Place nommer 11 is en soos my vorige huis in O’Kulistraat, Welgemoed, nommer 11 was. Van tyd tot tyd gaan maak ek seker dat my plekkie nog onbeset is, want ek het persoonlike, traumatiese ervaring van die stres en lyding wat dit meebring as iemand as ‘t ware by jou verbyglip in jou laaste rusplekkie in. Dit was die lot van ‘n ouma wat vir jare soos ‘n arend oor haar graf langs dié van haar vooroorlede man gewaak het. Toe sy haar rug draai, gebeur die ondenkbare.
Dit soek ek waaragtig nie – my plek in die muur is my plek. Ek het in harde kontant daarvoor betaal!
By die Voortrekkermonument tref ek onlangs nie ‘n Muur van Herinnering nie maar ‘n hele Tuin van Herinnering aan waar pragtige bome, struike en fonteine ‘n rustige atmosfeer skep. Nadere ondersoek van die inskripsies wat in die granietdeurtjies ingekerwe is, lewer die name van heelparty bekendes op – van hulle nog in die lewe, maar dan klaarblyklik van die bedagsame soort wat nie na hul dood onnodige moeite aan enigiemand wil verskaf nie. Prysenswaardig!
Die strooi van die as is nie altyd sonder insident of komplikasie nie. Die volgende het regtig met ‘n oud-kollega gebeur: Oupa se as moet op Bloubergstrand in die branders gestrooi word. Al die familie is daar in hul kerkklere. Die kerkklere blyk ‘n lastigheid te wees, want dit is juis op daardie tyd hoogwater. Selfs met opgerolde broekspype kom jy dan nie ver nie.
Twee, drie proeflopies word gehou. Die langste naasbestaande kry die sombere taak. Maar, o wee, hy trap op ‘n stuk seebamboes, struikel en verloor sy ewewig. Daar trek oupa se laaste oorblyfsels met ‘n slap bogie rot net voor sy tone.
‘n Brander vat dit en begin dit uitstoot strand se kant toe, waar die vergaderde roubeklaers in stilte die seremonie sien skeefloop. Toe kies ‘n meisietjie met bokstertjies en ‘n gesmokte wit rokkie plassend die hasepad. “Tjips”, roep sy, oupa is op ons!”
Toe Melkbos begin nis-georienteerd raak, het die uwe ‘n versie oor die nuwe “nis-mark” geskryf wat in my hekelbundeltjie Polisie, Polisie, Ons Reenboog Is Geroof, opgeneem is en wat ek graag tot aller stigting hier wil aanhaal:
Oor die muur
As ek die dag finaal dis-nis is,
my assies in ‘n nis gekis is,
kan jy maar oral vonkpos stuur:
die ou is oor – en in – die muur!
コメント