Google doen dit weer vandag: ons algemene kennis word uitgebrei as ons die soekenjin se tuisblad oopmaak. Geluk met jou verjaardag, Rodin, rus jou siel.
Rodin is vir my ‘n winterherinnering van tien jaar gelede. My geheue vertel my ek het die Rodinmuseum besoek juis rondom hierdie tyd, toe ek die nuus van Kerkorrel se dood ontvang het. Maar dit was dalk eerder ‘n maand later wat ons in Parys was. Die Moulin Rouge se windmeul het uitbundig in die rondte gedraai naby ons hotel, plakkate van die kabaret Le Chat Noir is onder ons kamervenster verkoop. Eksoties? Onophoudelik raserig eerder. Mens kon nie langer as ‘n week daar bly nie, want slaap het nie juis gebeur nie. Daar was ‘n probleem met die hotel se algemene elektriese toevoer. Of iets. Die hyser het nie gewerk nie (ons kamer was op die twaalfde verdieping). Die binneshuise verhitting het nooit ophou werk nie. Daar was ys teen die vensters, maar ons moes amper dwarsdeur die nag die venster oophou om nie van die hitte te versmoor nie.
Een oggend met die bleekwit lug was daar ‘n Franse slagter wat my skel omdat ek ‘n bestelling foutiewelik in vrot Frans geplaas het vir ons piekniek. En toe: Rodin.
Speel ek viool terwyl Rome brand? Ek hoor julle blogklagtes. @rewaco was moeg vir sukkel met die plaas van foto’s en video’s (dis darem ondertussen uitgesorteer as mens Firefox gebruik, laat sy weet). Ek hoor julle frustrasie oor dit nog nie moontlik is om die skriftipes te verander nie. Oor alles anders lyk. Oor die eienaardige Afrikaans van hierdie ruimte. Omdat julle nie ingelig word as iemand kommentaar lewer op jou bloginskrywing, behalwe as jy daarop inteken nie. Oor dinge so anders werk en anders is. Ek gee aandag hieraan – ek dra dit oor aan die mense wat ons by 24.com se kantoor in Kaapstad so geweldig help met al die tegniese aspekte van hierdie blogruimte.
Maar tog kan ek nie help om tussendeur ook betrokke te raak en saam webdagboek te hou nie. Rodin is nogal bekend daarvoor dat hy realisties met klip gewerk het (en hoe lewendig kon hy nie ‘n stuk klip toor nie … Geppetto van Pinocchio kon maar by hom gaan kers opsteek het :)). Maar terselfdertyd weer daardie realistiese beelde van hom groter en grootser gemaak het. Om te wys daar’s méér aan die beeldhouwerk as wat mens sien. Die Denker het gelyk soos ‘n man, maar sy buitengewoon groot karaktertrekke het aan hom ‘n ander kwaliteit gegee. Hy was Dante by die poorte van die hel. En so doen ons dit almal hier. Die narratief gaan voort, ons beitel en timmer op die internet, saam met al die ander miljoene bloggers in die wêreld. Dit lyk maar net soos gewone woorde, maar dit vorm deel van ‘n nimmereindigende gesprek.
So wat hoor ek by julle Denkendes? Ek lees hier van Prince Albert se Leesfees in hierdie blog. En hierdie blogger skryf heerlike inskrywings oor perde en perdry.
Nou eers ‘n praktiese vraag beantwoord: Ouboet se stoep soek statistieke en wil weet hoeveel bladlese daar op julle blogs is.
Julle sal moet inteken op Google Analytics en die kode van GA gebruik om in daardie blokkie in te voeg. Laat weet of julle regkom, asseblief.
Ten slotte, ‘n paar foto’s van die man wie se beeldhouwerk my bybly.
Comments