top of page
  • Uitmelkbos

Riaan Cruywagen (Geskiedenis 101)

Jare gelede het ek, altyd die tweede viool, tweede viool in ‘n kleingroepie (hoe sal jy gig vertaal?) gespeel. Hoewel die sin selfbejammerend klink, was die teendeel eerder waar. Ek het werklik viool gespeel en dit geniet om nie die wysie te speel nie. ‘n Viool is mos ‘n lekker ding waaragter mens kan wegkruip, amper soos ‘n blog. Of wat praat ek alles?

Wag, ek bedoel eintlik om van die vioolspel te vorder tot by Riaan Cruywagen.

Ek sit daar en vioolspeel op die verhoog van een of ander privaatskool in Kaapstad. Die papiere fladder gevaarlik op die stander en die spanning bou op: gaan die musiek wegwaai? Nee, gevaar afgeweer. Ek speel verder. Die volgende oomblik gewaar ek ‘n ou bekende in die gehoor, skuins by die stander verby. ‘n Mooi blonde vrou, van waar ken ek haar? Ek wil amper waai, maar nee, dit sal onvanpas wees hier van die verhoog af. Terwyl ek die volgende paar note speel, besef ek skielik wie hierdie persoon is wat ek herken. Dis Anneline Kriel. En nee, ek ken haar nie persoonlik nie. Ook al was sy al vantevore in my sitkamer – op die televisie. Toevallig, vind ek toe uit, het haar kind net die skool bygewoon waar ek viool gespeel het.

Ek wil my verstout om te sê dat Riaan Cruywagen vandag meer herkenbaar is as Anneline Kriel. Ek dink nie mense sal in die straat by hom verbystap en eens wonder of hulle hom ken nie. Hulle sal hom plaas en weet wie hy is en glo hulle ken hom persoonlik. Hy lees dan al die jare lank byna elke aand die nuus en maak ‘n Afrikaanse grappie agterna. Hy is inderdaad volksbesit.

Ek glo Riaan Cruywagen se uittrede die einde van November strek egter dieper as net mense wat ‘n bekende gesig groet. Hy lees nuus. En hy lees die nuus in Afrikaans, ‘n taal met ‘n klomp politieke bagasie. Die nuusberigte wat hy lees het gestrek van Breytenbach wat tronk toe is tot vandag se berigte oor verkiesings in Amerika en Nkandla.

As Riaan vertrek, groet baie Afrikaanse mense iemand of iets waaraan hulle kon vashou. Riaan was ‘n konstante deur die jare wat mense bang was vir die Rooi Gevaar, die Swart Gevaar en al die ander gevare wat al die kleure van die reënboog kan aanneem. Daar is sentiment betrokke. Grootmense voel soos kinders wie se troetelkombers wegraak.

Na al die jare verpersoonlik Riaan Cruywagen die nuus; meer as dit, hy beliggaam die Suid-Afrikaanse geskiedenis.

Riaan Cruywagen slaan die kitaar in hierdie land. Of, om by die idee van die viool te bly: ons groet die land se fiddler on the roof, terwyl die klanke van die liedjie “tradition” in ons ore weerklink.


Groete, Naomi M

Share this:

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page