Hieronder praat ek met gay mense, maar eers ...
... wil ek eers sê dat dít ’n boek is wat vir talle gelowiges iets sal beteken, ook al is hulle straight. Daar is ’n gay pastoor in my kop beskryf in die eerste plek ’n reis deur Philip Liebenerg se baie diep, en duidelike, soeke na God se wil vir sy lewe. Tydens hierdie soektog kom Philip agter dat vele aspekte van die kerk dit uiters moeilik maak vir mense om eerlik te wees. Om die waarheid te sê, Philip beweer dat die kerk mense leer om uiters goed te lieg.
Ek ken talle mense – straight, gay, skeef of sommer net weird – wat graag wil behoort aan ’n gelowige gemeenskap, maar wat nie kans sien vir die voorskrifte waarbinne hulle groot geword het nie. Ek dink húlle sal Philip se boek geniet.
Die voordeel van Philip se boek is dat hy egter steeds van binne die kerk skryf. Soveel mense wat deur Kerkhel is, verlaat die kerk en skryf dan met bittere haat oor hulle ervarings in die kerk.
Nie Philip nie.
Philip is baie eerlik oor die foute wat die kerk maak, en hy is gou om te sê ons moet versigtig wees om nie elke klein profeetjie, of elke nuwe stroming in die kerk, aan te gryp nie. Hy het ook harde woorde vir die voorvatters in die kerk wat soms liefdeloos optree, tog bly hy in die kerk. Sy eie soeke na liefde, en selfliefde, dwing hom telkens nader aan sy skepper.
Ek dink werklik mense wat sukkel om hulle lewens met hulle kerk te versoen, maar wat steeds in die kerk wil bly, moet Philip se boek lees.
Wees egter gewaarsku, dis nie ’n boek wat korte mette maak die godsdiens nie, so as jy kwaad is vir mense wat openlik hulle lewens binne ’n Jesusbeskouing wil leef, moet jy nie probeer lees nie, dan gaan dit jou verveel, of kwaad maak.
Ook vir gays!
Jip, so tong in die kies wil ek sê dis nie net straight mense wat sal baat by hierdie boek nie. Philip se eie reis na selfaanvaarding sal ander gay gelowiges help om die kerkdeure oop te stoot en die boeie van fundamentalisme af te skud.
Philip vertel hoe hy óók deel was van die gelowige anti-gaybeweging, juis omdat hy so bang was dat ander sal uitvind hy droom oor ander mans se lywe.
Philip was ook getroud – by tye het dit selfs goed gegaan in hulle huwelik. Tog, al die jare het hy daardie leuen in hom rondgedra.
Dit is sý storie die. Moet dus nie ’n selfhelpboek, of ’n dik stuk filosofie verwag nie. (Die laaste paar bladsye van die boek is wel ’n kort opsomming van Philip se (taamlik behoudende) teologie.)
Omdat die boek so sterk op een persoon se ervaring handel, en, juis omdat Philip so sterk die Jesusbeeld najaag, sal die boek sommige irriteer. Ek kan byvoorbeeld verstaan dat Joan Hambidge nie veel van die boek gehou het nie. (Haar resensie in Die Burger was nie baie positief nie.) Julle weet nou al dat ek en Joan mekaar al by geleentheid raakgeloop het, ook dat ek dink sy’s nogal smart, maar ek sou nooit vir Joan genader het om oor hierdie boek te skryf nie. Dis eintlik presies die soort boek wat jy níé vir Joan wil gee om te lees nie.
Dus, moet asseblief nie Philip se boek aan mense present gee in die hoop dat jy hulle weer vir die kerk gaan werf nie. Dit gaan nie werk nie.
In Byna Liefde vra ek byvoorbeeld vrae oor die wat die kerk doen met buitekerklikes (julle sal sien Laurie Gaum was effens ongemaklik oor van die aspekte), daarteenoor kom Philip en hy gee antwoorde. En dís belangrik. Philip het baie lank na antwoorde gesoek, en hy het dit gekry. Nou deel hy daardie antwoorde. En hoekom nie?
Daar is ’n gay pastoor in my kop is ’n boek wat geskryf is vir gelowiges deur ’n baie gelowige mens. Gelowige mense wat worstel met die “gayvraagstuk” móét Philip lees. Straight, gelowige mense wat self sukkel met geloofsvraagstukke sal eweneens die boek van waarde vind.
Daar is natuurlik ’n hele aantal tekste geskryf wat met dié een in gesprek tree:
Pieter Celliers se ’n Kas is vir klere (Human & Rousseau, 1997) is waarskynlik die sterkste interteks. Pieter was ’n dominee in die Hervormde Kerk toe hy uit die kas geklim het, maar Pieter het toe die bediening verlaat.
Lidia Theron se Jy bly my kind (Hemel en See Boeke, 2005) het al talle gelowige ouers gehelp om hulle gay kinders te aanvaar.
Voorts het ons Carel Anthonissen en Pieter Oberholzer se Gelowig en gay? (Lux Verbi, 2001), maar dis taamlik teologies.
Die immerversoenende Biskop David Russel het ook ’n klein monografie geskryf oor die saak, maar ek kan nie nou my hand daarop lê nie.
Gordon Isaacs end Brain McKendrick se Male Homosexuality in South Africa (Oxford University Press, 1992) is daarteenoor suiwer akademies.
Hierteenoor is André Carl van der Merwe se Moffie suiwer fiksie en geensins godsdienstig van aard nie. (Ek ken vir André Carl, hy is ’n diep gelowige mens.)
Genoeg geklets. Daar is ’n gay pastoor in my kop sal vir gelowiges baie beteken, ook vir diegene wat nog twyfel, maar steeds hunker na ’n veilige plek binne die kerk. Ek sou dit nie aanbeveel vir die kerkloses nie.
Yorumlar