top of page
Uitmelkbos

PAS OP VIR TE MAK RAAK!




Oor die gevare van kaalvoet loop in die wildernis het ek my iewers – in my bosboek Buurman van die Wildtuin, meen ek – ewe slimjan uitgespreek. Teen my eie verstandige advies in braai ek egter hierdie vakansie in Sabiepark een aand ‘n vleisie met (in polisieterme) ongeskoende voete.


Weet julle hoe brand die kooltjie van ‘n vurige vleisbraaivuur as jy hom diep in die sagte kussing van jou voet wegtrap? Tokkie was dadelik byderhand met ‘n blokkie ys. Maar ek het omtrent ‘n riel gedans.


Vandag, twee weke later, sê ek nog les op. Om 11:00 is in die dagboek neergepen: “Dr. Meintjes.” Dis nou dokter-sake met die voet wat maar net nie wil gesond word nie. Dan voel dit beter; dan brand dit weer of daardie nimlike kooltjie steeds gloeiend iewers skuil. Glo die teken van ‘n tweedegraadse brandwond.


‘n Mens raak maklik te mak vir die bos daar in Sabiepark. Jy weet hiënas en ander gevaarlike diere kan enige oomblik om die hoek van jou huis stap, maar jy werskaf maar rustig voort met jou rug na die gevaarkant. Jy weet oral is slange en skerpioene, maar as die natuur roep, waag jy dit gou-gou in die donker kaalvoet badkamer toe. “Homo sapiens” is ‘n vleiende betiteling. Aan ‘n mens se domheid is eenvoudig geen grense nie.


Met skerpioene had ons hierdie drie weke oor Kersfees en Nuwejaarsdag meer insidente as ooit tevore. Ek kan aan minstens tien uitgevrete kalante dink wat net-net misgevat of mis-getrap is. Brrr! Tog, toe ons wegpak, haal die uwe ewe onbehoedsaam ‘n geblokte foto van twee olifante in n diepe slurpgesprek van die stoep-braai se skoorsteen. Ek deins terug toe ‘n vet skerpioen op die een punt vir my sit en gluur, oorgehaal vir aksie.


“Daar’s twee,” kondig Tokkie aan. Jou waarlik. Op die ander punt teen die donker klinkermuur sit klaarblyklik Mev. Skerpioen met haar vrag van wriemelende skerpioen-telgies spierwit op haar rug ingeryg. HvD kon sy vingers letterlik lelik verbrand het.


Om skuifdeure toe te hou, is een van die basiese boswette. Voordat jy kan sê mes, glip ‘n opportunistiese slang na binne. Maar ‘n mens se geaardheid is mos maar so dat hy sy kop (anders as ‘n donkie) twee keer moet stamp.


Op ons laaste dag skuif Tokkie die gastekamer se deur op ‘n skrefie oop om na die dag se skoonmaak die matjies terug te gooi. Die tweeling, Jacob en Thomas, roep in n koor: “Hy’s in!” “Hy” is die likkewaantjie wat ons kort tevore onder die Honda sien skarrel het. “Kan nie wees nie,” wil Tokkie nog argumenteer. “Is”, hou die twee seuntjies vol. Tokkie begin soek. Daar kry sy die meneertjie onder die bed – min lus om pad te gee.


Uiteindelik is die besoekertjie deur Tokkie met ‘n besem verdryf. Heerlike avontuur vir die jillende kinders. Maar dit kon ‘n slang gewees het! En dit het blitsvinnig gebeur – in ‘n breukdeel van ‘n sekonde.


Net dae tevore keer ons terug van ‘n uitstappie en tref Lucy, die huishulp, grootoog aan. “A snake, a big one,” is hier om die huis van die huilboerboon se kant af vorentoe. Hy’t hier langs die swembadjie af verby die haak-en-steek ge-“walk” en ge-”walk” en hy skuil nou in die wilde katjiepiering so ‘n entjie van die voorstoep. Gelukkig het ons paaie nie weer gekruis nie.


Met ‘n nare onbekende gogga-spesie het dit wel. Die plaaslike mense noem dit ‘n “wit mot”, maar die beskikbare insekteboeke bied nie veel leidrade nie. Ewenwel die ding het ‘n angel soos n wafferse perdeby, nee erger, en waar hy vasbyt, spat die sug. Tokkie se toon het deurgeloop. Dit was nie n mooi gesig nie.


Al die spuite, smere en brand-dinge om die slaapkamer gogga-vry te hou, laat die plek, om die kinders aan te haal, saans soos ‘n “muskietfabriek” ruik. Weens die kollektiewe krag van al daardie afweermiddels tesame het Tokkie se nagtelike aanvaller darem ook sy rieme styfgeloop. Sy wit vlerke was netjies toegevou toe my vrou hom in ‘n diepe koma voor die bed aantref. Hy het mierkos geword.


Witmot nommer een se twee maters wat ons in die badkamer aangetref het, was egter nog onheilspellend lewendig. Dankie tog, die kinders se tone het nie in daardie pynlike slagysters beland nie.


Moet sê die aanslag van so n verskeidenheid vlieënde, kruipende, stinkende, bytende en stekende klein verpestings het naderhand op die twee se senuwees begin werk. ‘n Kindjie weet mos nooit agter watter welwillende gegons skuil ‘n venynige brandpyn nie!


Maar met die “oorkruiper” – ‘n variasie op die tema van ‘n duisendpoot wat egter net honderd pote het (en hy kruip ook nie regtig in jou oor nie) – het albei hulle buitengewoon dapper betoon. Tokkie was nog op pad om ‘n skoppie en ‘n borsel vir die verwydering van die grillerige affêrinkie op die vloer te gaan haal, toe hulle ontdek jy tel hom sommer met ‘n toutjie op. Onwetend dat hy deur daardie daad van vertroue sy eie graf grawe, beskou die “oorkruiper” enige toutjie wat na hom uitgehou word, blykbaar as ‘n potensiële reddingstou – ten minste uitkoms uit die gevaar wat ‘n vasberade vrou met ‘n skoppie en ‘n borsel vir ‘n onwelkome gogga inhou.


Wel, ons moet maar almal ons lesse in die natuur leer, nie waar nie!

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comentarios


bottom of page