Dit is die radio-omroep van Sabiepark. Hier volg die weerverslag van die veertien dae sedert 15 Desember …
Klink na doodgewone roetine-inligting wat gaan volg. Moenie glo nie, dis ‘n eksklusiewe stuk hierdie, spesiaal saamgestel vir my Kaape vriende wat botweg bly weier om te glo dat die Bosveld in Desember lekkerder kan wees as in die Kaap.
Ek besef ek gaan daardie ongelowige Thomasse in die suide nie oortuig nie. Mites kan kwaai wortel skiet. Boonop, as jy bly glo dat daar nie iets ernstigs met WP-rugby skort nie, is jy nie ‘n mens wat maklik tot nuwe insigte kom nie.
Nietemin, ek doen hier uit ‘n modderbad verslag nadat gister in Sabiepark 93 mm neergegiet het. Alles loop vandag oor: die Van D’s se swembadjie, ons reënmeter en ons harte. Julle moet die Sabierivier by die piekniekplek sien en hom hoor dreun. Hy loop vol, diep en kragtig. Die sitbankies op die uitkykdek moes haastig verwyder word. By Tarlehoet loop ons spruitjie – die tweede keer in tien jaar dat ons dit beleef.
Mense, die bos is ‘n lus. Die beste van alles (buiten vir die sonsoekers langs die groot swembad hier neffens die TV-kamer) is dat dit al van die middag van 24 Desember – toe 48mm in ‘n japtrap uit die hemele gestort het – bewolik is, soos in loodgrys bewolk. Netnou het die eerste skrefie sonnetjie deurgbreek. Nie vir lank nie.
Ek, Tokkie en die tweeling Jacob en Thomas Claassens het op 15 Desember hier aangekom. In die veertien dae is op 7 dae reën aangeteken. Nog ‘n dag of twee het bewolk verbygegaan sonder dat dit gereën het. Sonskyndae? Op die meeste dus vier of vyf uit veertien!
Selfs op daardie handjie vol dae het daardie verskriklike temperature van rondom die veertigs wat ons liewe vriende so besorg stem oor ons treurige lot hier in ons bosparadys nog nie eens naastenby grealiseer nie. Hier by 33, 34 grade – dit is waar die kwik op die warmste dae vasgesteek het. Een keer het dit oor 34 geskuif, net-net. Dit was op 24 Desember. Maar om 15:00 toe’s die lug donker en dit donder en blits. Die lafenis was onbeskryflik wonderlik.
Die swembadjie bied, soos altyd, heerlike uitkoms as dit wil-wil warm raak. Maar glo dit of nie, die kinders kla aanmekaar die water is te koud. Hulle soek son om dit ‘n slag deeglik warm te bak.
Die waaiers in ons sit- en slaapkamers was nog selde aan, en dis nie oor ons wil krag spaar nie. Die batterye is springlewendig.
Die waarheid is dat hierdie ons derde bos-Kersfees was. My derde bos-verjaardag, ons derde bos-huweliksherdenking en ons derde bos-nuwejaar lê voor. Ons kom vrywllig, nee reikhalsend, en nie omdat ons masochiste is nie.
Glo ou Hennie, liewe vriende, ons kuier hier is weer een absolute genot. Ons dink aan julle as ons hoor hoe die Suidoos swiep en die branders perdjies maak.
Ons bring vir julle foto’s van die Sabie, breed soos die Mississippi, en die eksotiese groene van veld en bos in al sy stemmings en skakerings.
Comments