top of page
  • Cicerothesoothsayersays

'n Stappie na Hatfield Plaza bied wonerlike people watching geleenthede

Ek het nog altyd gedink, as ek vir iemand wat niks weet nie, ‘n buitelander of so, wil wys HOE ons land is, sal ek hom/haar net deur Hatfield saam met my laat stap.

Vandag stap ek van die koshuis na die plaza. Verby Chinatown- Chinese internetkafees, printplekke, en sushi restaurante. ‘n Paar suur jong chinesies hang rond voor Masiza cash loan-donker plek, tien teen een onwettig ook. Ek loop verby Kung-fu Kitchen, en dit ruik soos asblikke en Chinese noodles en sushi. Ek stap eerder verby Kung-fu as verby Springbok bar, daar’s te veel stof en klippe wat in skoene in klim. Agter by die wassery sit twee meisies en braid mekaar se hare.

Verby Kung-fu, tot in Hilda straat, Sipho is besig om soos ‘n besetene in die straat rond te spring, danger tape om sy arms gebind, in ‘n af-geel jassie wat in die son weerkaats. Hy fluit en swaai en beduie, reguleer die verkeer soos ‘n wafferse verkeerskonstabel terwyl die wit tannie met die rooi naels in haar blink wit BMW 4x4 op die sypaadjie klim. Sipho se vriend/handlanger le stoned op ‘n ou karsitplek, bo-op ‘n tyre gemonteer. Sy oe trek skeel, en hy het ‘n moerse gewas op sy oor wat lyk soos mossels teen ‘n rots. Ek stap doodgewoon verby, gewoond aan die pisreuk, daar tot duskant Greenfields. Een kant van die pad sit groot, vet swart vrouens bo-op pepkomberse, hulle rokke uitgesprei, stompies bene wat onder uitsteek. Hulle verkoop loose-draws of pakkies sigarette, recharge foonkaarte, fritos en niknaks. Anderkant sit ‘n blinde swart man, suit, hoed, oud, grys, en speel Sarie Marais op ‘n penniefluitjie daar voor Macdonalds. Koerantverkopers skree luidkeels ‘Pretoria-Pretoria-Pretoria’! op die maat van die toetende taxis, fluitende lapswaaiers en klaende penniefluitjie, terwyl hulle die Pretoria News onder jou neus indruk. ‘n Wit boemelaar met ‘n bruingedrinkte en gebrande vel le in die hoek, sy rasta lokke onder ‘n verflenterde wolmus ingedruk, in die hitte en al, sy basterbrak aan ‘n tou by sy voete. Yuppie studente staan in die ry by Macdonalds, mens sien net tande en sonbrille flits. Af met die trappe, verby Uncle Faouzi’s Lebanese Cuisine. Lebanese mans sit en suig aan ‘n massiewe Hubbly met ses pype, die geur van soet tabak, tamaties en lam vul die lug. ‘n Blinde oupatjie sit en skud sy blikbekertjie met een munt in. Na die drie jaar wat ek al hier woon, verstom hierdie ou my steeds, maak nie saak hoe sag jy verbysluip nie, soggens kry jy ‘n ‘Goeijeeeeeemorê’, smiddags ‘n goeiemiddag, saans ‘n goeienaand. Die oom met sy pikswart brilletjie is terug op sy pos na ‘n lang breuk, arme ding was seker siek. Verby die apteek, draai in die plaza in, gesinnetjies lunch by die Wimpy, besigheidsmense in suits en snyerspakkies teug aan sigarette en water buite La Pat. Op haar eie, by ‘n tafeltjie voor La Pat sit ‘n wit, rosyntjierige tannie, gietswart gedyede hare wat uitgroei, bindi op die voorkop geplak, ‘n sari-tipe rok gewaad, boheemse krale om die nek, lang hare kroeserig en los gevleg. In die plaza probeer die Hare-Krishna met sy verfkolletjies op die gesig en klossie mo-hawk hare ‘n boekie aan my afsmeer. Voor Memory Lane sit kinders en eet roomys, terwyl ‘n slymerige omie vir hulle staar. ‘n Swart man met ‘n blink swart kaalkop, en ‘n nog blinker ontwerperspak lek aan ‘n softserve. Meisietjies in affies skoolklere windowshop by Mr.Price en Jay-Jays.

Ek doen my ding, kry wat ek moet kry, en al die tyd vergaap ek my aan die diversiteit.

Stap dieselfde pad terug, maar hierdie keer voor verby Springbok Bar. Omies met boepe drink bier en eet groot stukke steak, studente besluit om in die middel van die dag dronk te word onder die springbokvlae, tussen die LCD screens waarop Supersport flits.

Ek loop vir Ansie, ons skoonmaker raak voor die koshuis, onder die boom, lunchbreak, terwyl sy pap, en iets wat soos ‘n kruis tussen gras en marog lyk, eet. Sy glimlag vriendelik en skree Sawubona squeeza, ek antwoord en wuif terug. Op met die trappe verby die Indier ingenieurs wat op hulle laptops sit en werk aan ‘n taak, bling om hulle nekke, Levi’s hemde, Puma skoene.


Nou hoe de donder verduidelik mens vir ander mense hoekom dit nie so maklik is om in ‘n reenboognasie te bly nie? Hoe kry ons dit reg? Ons vaar regtig goed onder omstandighede.

En tog is dit so kleurvol en mooi, en ek wil niks anders he nie. Want ek het kos, geld, klere, en ‘n blink karretjie. Ek wonder hoe voel Sipho, Ansie, blinde oom en penniefluitjie, bekyk hulle dit ook so lekker soos ek, of wonder hulle net wat hulle vanaand gaan eet en waar hulle gaan slaap? ok, dis al wat ek wou se. Bye

1 view

Recent Posts

See All

Hallo julle

Begin jou plasing hier skryf. Voeg prente, video's, #hashtags en meer by.

Vanaand is ek in my eie city of delusion...

Stay away from me Build a fortress And shield your beliefs Touch the divine As we fall in line Can I believe When I don't trust All your theories Turn to dust I choose to hide From the all seeing eye

Johanna

Begin jou plasing hier skryf. Voeg prente, video's, #hashtags en meer by.

© 2022 LitNet. Alle regte voorbehou | All rights reserved

bottom of page