top of page
Uitmelkbos

MURPHY KLIM TOE SAAM OP DIE KANSEL!




Murphy Se Wet bepaal dat alles wat kan verkeerd loop, verkeerd SAL loop. Dié gesegde is so van 1952 se kant as Murphy Se Wet bekend, maar sy wortels lê veel dieper in die verre geskiedenis.

Rondom 1870 reeds het die volgende versie in ‘n Amerikaanse koerant in die deelstaat Ohio verskyn:

I never had a slice of bread,

Particularly large and wide,

That did not fall upon the floor,

And always on the buttered side.

As ‘n sny brood val, val dit altyd op die gesmeerde kant – ‘n skitterende voorbeeld van Murphy se Wet in werking.

Toe die rekenaar begin algemeen raak so 30, 40 jaar gelede het die geleentheid om Murphy se Wet in die prakjyk in aksie te sien, vertienvoudig, indien nie verhonderdvoudig nie. ‘n Uitgebreide definisie van die Wet het terselfdertyd in omloop gekom. Ek haal dit hier in Engels aan, omdat dit een van daardie stukkies Engels is, wat lomper word as jy dit probeer vertaal:

“Whatever can go wrong will go wrong, and at the worst possible time, in the worst possible way.”

Vir my was die lewende simbool van Murphy se Wet baie jare Oom Baffie Coetzee wat in die jare sestig van die vorige eeu ‘n skoolhoof op Fickburg was. Hy was ook Die Volksblad se korrespondent, en het met groot entoesiasme foto’s geneem van als en nog wat wat op Ficsburg gebeur. As hy met sy films in Bloemfontein opdaag, was die ontnugtering gewoonlik groot. Sulke vaal, uitgewaste negatiewe kon slegs Oom Baffie produseer.

Oom Baffie het vas geglo hy word in die donkerkamer gesaboteer. Op ‘n dag ontbied ek die hooffotograaf na die nuusredakteurskantoor om te kom kyk wat dan skort.

“Oom Baffie, wys my watter knoppies druk jy,” versoek jy.

“Ek druk die regte knoppies,” antwoord Oom Baffie verergd.

Later het ek rede gekry om te wonder of Oom Baffie wel die regte knoppies gedruk het. Toe ek hom na jare raakloop, deel hy my mee hy het ‘n boek oor sy lewe geskryf.

“Wanneer verskyn die boek?”

“Gaan nie verskyn nie.”

“Hoe dan so?”

Nee, Oom Baffie het die verkeerde knoppie op sy PC gedruk. Toe’s die hele boek net …poef!.. die kuberruim in. Ai, ai. ai, arme Oom Baffie.

Sondag in die kerk was die nimlik Murphy baie bedrywig. Sal nie sê watter gemeente nie, want dure ervaring her geleer op sekere sensitiewe tone trap jy maklik. In elk geval, ‘n besoekende leraar preek en hy daag op met sy drarekenaar wat hy gewoonlik self van die kansel af hanteer. Die opkoppeling gee egter probleme.

Die dominee jaag ore in die nek huis toe – maklik 40 kilometer heen en weer – om die “regte kabel” te gaan haal. Hy kom wonder bo wonder betyds met sy kabel, maar steeds bly die herderlike “laptoppie” steeks. Net een genade bly oor: die skyfies moet maar op die gemeente se primitiewer manier deur ‘n derde party op die skerm gewerp word terwyl dominee preek.

Nie onverwags nie, ontstaan nou ‘n lastige sinchronisasieprobleem. “Dankie, Pieter,” merk die dominee elke keer op as hy die volgende skyfie verlang – mettertyd al hoe strammer terwyl skyfies en preek verseg om dieselfde ritme te vind.

Eers: “Dankie, Pieter”, die ene hoopvolle welwillendheid.

Dan: ‘Dankie, Pieter,” ietwat gespanne.

Dan: “Dankie, Pieter,” duidelik geïirriteerd.

Asof die duiwel regtig sy mes vir die vergaderde kuddetjie in het, ontstaan nou ook ‘n klankprobleem. Die luidsprekers begin rommel en grom soos veraf donderweer. Dit hou nie op nie. Naderhand is die hoofouderling op die kansel, toe die koster, daarna die gemeente se eie leraar wat klankstelsels ken. Die dominee preek vasberade, maar die luidsprekers bly lol en die gemeente sit op naalde en spelde tot die “Amen”.

Ten besluite, moet ‘n stigtelike video gewys word. Niks gebeur egter op die skerm nie. “Dankie, Pieter … Dankie, Pieter… Dankie, Pieter.” Maar niks. Eie leraar gryp weer in met n paar aankondiginge. Die skerm bly leeg. “Sal die orreliste iets sag vir ons speel?” Halfpad deur die strelende musiek flikker die skerm, en sy hou op. Maar die uitkoms is van korte duur. Net daarna sak die Groot Stilte weer toe, swaar en onheilspellend.

Hy het darem ‘n opsomming van die video, kondig die besoekende leraar later aan, duidelik nou erg moedeloos. Daarvoor moet die stomme Pieter, seker toe al ‘n senuweebol so groot soos hy is, weer opnuut knoppies begin soek – ‘n taak wat hy ywerig en doelgerig uitvoer. En met welslae. Maar dit het soos ‘n ewigheid gevoel voordat die skerm skielik flikker: “Opsomming.”


“Dankie, Pieter!” sê die besoekende leraar verlig.

My swaer Fanie van Wyk vertel van ‘n dominee wat glo jy moenie te lank voor die tyd jou preek voorberei nie. Dan gee jy net die duiwel kans om kwaad te doen. Klaarblyklik het die bose lank kennis gehad van wat Sondag op daardie kansel gaan gebeur. Hy kon toe selfs vir die besige Murphy saamnooi kerk toe! (HvD)

3 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comments


bottom of page