top of page
  • Uitmelkbos

Liplek-lekker


In so ‘n roesbruinerige boekie iewers in ‘n donker hoekie van ‘n boekrak wat sterk na mottegif ruik, doen ek nou die dag twee ontdekkings. Een is ‘n heerlike stuk humor deur André P. Brink op sy speelse beste. Die tweede ‘n treffende Audrey Blignault-essay oor Pretoria se jakarandas.

Die bundel self – Willekeur –‘ n willekeurige keur deur Koos Human – is eintlik ‘n ontdekking in sigself. Dit is al in 1994 gepubliseer, maar ek het die boekie nog nooit raakgevat as ek iets te lese soek nie. Daarin is skryfwerk wat daardie vermaarde uitgewer om uiteenlopende redes bygebly het – en die bydraes van Brink en Blignault is gewis nie al wat hierdie leser getref het nie.

Hulle staan egter uit – Brink se kostelike ‘n Reël is ‘n reël omdat dit my soos lanklaas laat skaterlag het; Blignault se Die vrolike lied (die betekenis van die Spaanse woord jakaranda) weens heerlike herinneringe aan my studentestad Pretoria wat daarin so gevoelvol afgestof word. Ek is met die lees daarvan skoon deur ‘n akute aanval van nostalgie beetgepak.

‘n Ontdekking laat die hart des te meer bons as dit terselfdertyd ‘n lekker verrassing is. Nouja, Brink se verdienstelike humorboeke (soos Mal en ander stories) is nie aan my onbekend nie. Wat my wel verras het, is die nuwe humorhoogtes wat die man met die produktiewe pen hier bereik. Brink kon ongetwyfeld ons heel beste humorskrywer in Afrikaans geword het as hy wou. Wat my by Blignault verras het, is dat ek haar as skrywer net vir ‘n sekere segment sentimentele vroue getakseer het (moenie skiet nie, dames, asseblief!). Hier raak sy toe met ‘n liriese stuk ‘n siniese ou man se hartsnare.

Loshande die verrassendste boeke-ontdekking van my 67 jaar was in 1976 by die Harvard-universiteit in Cambridge, Massachusetts. Ek dwaal in die universiteitsbibloteek, die indrukwekkende Widener met sy reusepilare en met sy meer as tienmiljoen boeke (waaronder ‘n Gutenberg-Bybel), toe my oog by die G’s val op die naam van ‘n gewese kollega, wyle Blaar Grobbelaar, later redakteur van Oggendblad. Dis ‘n boek oor Bram Fischer – en dit in Afrikaans! Later sou ek ontdek dis nie die enigste in my moedertaal in die Widener nie.


Ook herontdekkings kan natuurlik veel plesier verskaf. Ayn Rand se Fountainhead het ek in 1963 present gekry by ‘n studentemaat, Piet Henning, wat nou in Chiredzi, Zimbabwe, boer. Toe ek dit ‘n rukkie gelede herlees, het ek opnuut besef: dis ‘n magnetiese boek wat jou end-uit boei – een hoog op op my eie top-tien-lysie. Paul Gallico se The Snow Goose was in matriek voorgeskryf. Ek was toe so meegevoer dat ek ‘n lang Engelse gedig oor die eensame boggelrug Philip Rhayader, sy geliefde Fritha (“Frith … Fritha … Frith, my love….”) en die manjifieke wit voël met die swart vlerkpunte geskryf het. Na 50 jaar gryp Gallico se klassieke werk my opnuut aan.

Musiek-ontdekkings (en -herontdekkings) omvat ‘n wye spektrum – van trefferdeuntjies uit my jeug (Elvis, Pat Boone, Perry Como, Debbie Reynolds Doris Day…) tot die grootse operakore en –arias van Guiseppe Verdi, my gunstelingkomponis vir baie jare. Die slawekoor uit Nabucco , Va Pensiero, maak nou nog die ou stram knieë week. Min hou egter kers vas by die ontdekking van hoe halsoorkop verlief ‘n mens vir Mozart-musiek kan word; alle Mozart-musiek.

Dit was op ‘n besoek aan Oostenryk vir die 47ste Wêreldkongres van Koerante in 1994 in Wenen dat ek die eerste keer in Salzburg geland het. Naby Mozart se geboortehuis het ek ‘n CD met 19 van die meester se grootste werke gekoop – ware hartsmusiek. Bestaan ‘n meesleurender melodie as sy Klavierkonsert nommer 21 se Andante-gedeelte, die “Elvira Madigan”?

Die grootste verrassing op die gebied van skilderkuns was op ‘n besoek aan Rusland in 1990 toe daardie onherbergsame land nog maar uiters morbied aangedoen het. In Leningrad (St. Petersburgh) gaan staan ek tou, soos alle besoekers aan daardie enkel en allenige Russiese stad met ware styl en karakter, vir ‘n kaartjie vir die beroemde kunsmeuseum die Hermitage.

Synde maar ‘n leek, dwaal ek in die museum rond sommer agter my neus aan, kyk ‘n bietjie hier, snuffel daar. Skielik bevind ek my in ‘n saal met meer as 20 kunswerke van Rembrandt Harmensz van Rijn, een van die wêreld se grotes.

Tot in daardie stadium, moet ek tot my skande bely, het ‘n Rembrandt-meesterstuk vir my beteken ‘n Rembrandt van Rijn ( “elke sigaret n meesterstuk”) waarvan ek in my jare as strawwe roker duisende aangesteek het. Nou was ek omring van Rembrandts van onberekenbare waarde – die grootste Rembrandt-versameling ter wêreld met beroemde Bybelse werke soos Abraham se Offer en Die Terugkeer van die Verlore Seun.


Die saal was relatief verlate. Terwyl die gejaste toeriste buite in die Russiese winterkoue stoomwolke blaas, was dit hier binne vir ‘n kosbare paar minute amper net ek, Hennie van Deventer van die verre Bloemfontein, en die Rembrandts in hul ornate rame. Al weet ek gevaarlik min van skilderkuns, was ek oorweldig. Ek sou sommer ‘n venster uit sy (verwaarloosde) houtraam wou pluk en dit oor die pleine uitjubel: “Eureka! Kom kyk wat ek gevind het!”

Sewe jaar later was ek en my vrou, Tokkie, in Amsterdam vir die 50ste Wêreldkongres van Koerante. Die hoofonthaal vind toe plaas in die weergalose Rijksmuseum met niks minder nie as Rembrandt se beroemde Laaste Avondmaal wat oor die gesellige groep met hul skemer-Bols en Hollandse versnaperinge waak. Met harte wat bons van opwinding het ons voor dié meesterstuk vir die kamera poseer. Helaas, toe die foto uitkom, was die Van D’s piekfyn belig, maar die skildery nie. Dit was in donkerte gehul en nie die beste towenaar in ‘n fotografiese donkerkamer kon dit regdokter nie.

Kosontdekkings in my lewe was in ‘n minder verhewe liga as die skryfkuns, komposisies en skilderye van skeppende geeste soos bogenoemdes. Met Franse cuisine het ek byvoorbeeld nooit intiem kennis gemaak nie. Maar ook uit ‘n doodgewone plattelandse kombuis kan koningsdisse kom wat die smaaksintuie uitermate streel en ook as groot ontdekkings geklassifiseer kan word.

Een so ‘n keer wat my nog helder voor die gees staan, was in 1965 in my aanstaande skoonma, Marietjie van Wyk (nou 94), se huis in Hertzogstraat, Bultfontein. Ek wat tot daardie dag nie my mond aan pampoen wou sit nie, het ontdek dat dit, hoewel eenvoudig, reg voorberei een van die heerlikste groentes kan wees. Die gasvrou was uit die veld geslaan toe ek haar ‘n pluimpie gee vir haar vorentoe “soetpatats”!


(Moet darem byvoeg ook haar frikadelle was altyd iets uit ‘n ander wêreld. Hoe watter my mond sommer nou…)

Een kos-geheim kon die uwe nooit ontdek nie. Dit is wat afval-liefhebbers aan daardie konkoksie het. Verlede Vrydag by Melkbos se kerkbasaar het hulle weer watertand hul afvalbakkies staan en uitlek (twee enorme ysterpotte tjokvol) , terwyl die uwe liewer die een vetkoek met maalvleis na die ander ingeprop het. Vetkoek en maalvleis? Ja, dis presies wat hierbo staan.

* André P. se ‘n Reël is ‘n reël kom uit sy bundel Pot-pourri en Audrey se Die vrolike lied uit haar bundel met dieselfde naam.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Comments


bottom of page