Die vroulike pasient lê uitgestrek onder die laken of hoe vroulike pasiente nou ook al lê as dokters bepaalde sensitiewe ondersoeke op hulle uitvoer. Dan lui haar selfoon wat sy strategies neergesit het op ‘n tafeltjie wat sy kan bykom.
Woerts peul ‘n kaal arm onder die laken uit, die vingers vroetel flink vir die foon en ‘n vrolike laggie klink op: “Regina, is ek bly om van jou te hoor!”
Die foon word ‘n oomblik in die hand toegevou. “Dokter, moenie dat ek jou hinder nie.” Dan gaan hy – strammerig – voort met sy ondersoek van wat jy dit wil noem, en sy – volkome ontspanne – met haar sosiale gesprek met Regina.
Dit kan natuurlik ook andersom gebeur. Die dokter begin keel skoonmaak om ‘n gewigtige diagnose mee te deel. Dan kom ‘n boodskap deur wat sy aandag aftrek. “Mintag,” roep hy verras uit: “Hulle bied my al weer ‘n nuwe pakket aan!”
Die euwel van die selfoon het waarlik al sy tentakels tot in dokters se spreekkamers ingeslaan. Nou is dit plus-minus oral: van kerk tot werk, van onthaal tot konsertsaal, van straat tot beraad.
Wie Nataniël ken, weet dat hy sy stem dikwels, en met kenmerkende welsprekendheid, teen die gebrek aan goeie selfoonmaniere verhef. My ou straaltjie wat ek byvoeg, is sommer ‘n sekondêre enetjie. Maar magtig, die ding krap al lank aan my ook.
Wat te erg is, is te erg, dink ek elke keer as die een of ander koddige luitoon in ons kerk lostrek of ek vergeefs in winkels moet wag terwyl die assistente hul senutergende selfoon-gesprekkies eindeloos bly voer. Wat te erg is, is te erg dink ek ook toe ek na ‘n seldsame vliegtuigrit op “Kaapstad Internasionaal” land.
Op ‘n gegewe oomblik breek selfoontyd luidrugtig in daardie Boeing aan. Almal praat kliphard deurmekaar met vriende, familie of kollegas. Die piep-piep-piep van opgegaarde boodskappe kom knetterend deur. Inkomende oproepe bars in ‘n kakofoniese koor van klanke los.
Ek vertel vir ‘n vriend van die aanslag op my ore in die paadjie van die propvol 737 en noem dit misnoegd – ietwat oordrewe blyk dit toe – die uiterste onbedagsaamheid. “Sak Sarel, jy kla nou oor ‘n klein klippertjie in die skoen ” knip hy my kort. Toe vertel hy my ‘n ding wat my ore laat tuit soos ‘n nare selfoongeluid.
Oor ‘n nuwe grootbaas by geen-hierjy-maatskappy nie (een van die grotes op die Beurs) wat so by vergaderings soos ‘n bakvissie met ‘n nuwe speedingetjie sit en SMS’e tik. Sy vingers trommel glo sonder ophou terwyl die besige man sy belangrike opdragte oral heen laat vlieg.
“Maar dan luister hy mos nie wat iemand sê nie,” waag ek. “Presies,” antwoord die vriend. “Hy stel nie in ons belang nie.” Wonder of daardie baas besef watter skadelike sein van homself hy aan sy personeel uitstuur.
Mevrou Van D. sit die kersie op die koek deur my te herinner aan ‘n vername boekbekendstelling waar ons gaste was. By die geleentheid was ook ‘n ekspert oor etiket wie se woord nogal gewig dra oor kwessies van reg of verkeerd.
Net toe die spreker mooi op dreef kom, lui ‘n selfoon luid. Almal kyk geskok in die rigting van die steurnis. Dit kom waaragtig uit die ekspert se modieuse handsakkie op die grond langs haar. Sy kon nie vinnig genoeg haar bordjie eetgoedjies neerplak, die handsak oopruk en die foon met bewende vingers dooddruk nie.
Die pikantheid van die situasie het niemand verbygegaan nie. Terwyl ‘n plesierige geproes soos ‘n golf deur die saal trek, het ‘n blos teen die ekspert se wange opgekruip – so dieprooi soos die ronde tamatietjies wat die keurige skottels vleis versier.
Ai, wens darem so ‘n verleentheid – plus nog ‘n kramp in ‘n onnoembare plek – kan elke blikskottel tref wie se selfoon op die verkeerde tyd op die verkeerde plek aangeskakel is.
Comments