top of page
  • Uitmelkbos

KOS-KENADES


Ons leef in ‘n seisoen met vele tradisies. Een lekker feestyd-tradisie is uiteet. Gesinne draf in strepe op op vir Desember-“bederfies”. Restaurante bars uit hul nate. Kombuise kook letterlik. Kelners draf behoorlik met boordensvol borde (plus ‘n wittetjie of ‘n rooietjie of albei) vir die honger (en dors) menigtes.

Uiteet-stories varieer van vonkelwyn wat weens onverskillige gebruik eerbiedwaardige gaste sopnat en druppend bespuit, tot sjokoladesouse wat oor tabberds en toppies stort en hul loperige weg klewerig vind deur die slagoffer se berge en dale as’t ware.

‘n Persoonlike verleentheid van daardie kategorie het hierdie ou een aand in die gewilde restaurant Crickets (Cricketts?) in Chicago oorgekom. Ek is stoksielalleen die aand daarheen vir ‘n lekker stuk beesvleis. Dit was winter en vrek koud en ek was bejas.

Crickets (Cricketts?) was daardie aand propvol en beweegruimte skraps. Terwyl ek inskuif na my klein tafeltjie in die hoek gryp my jaspant ‘n elegante dame aan die buurtafel se parfait en dompel dit in haar skoot op die swart fluweelnommertjie wat klaarblyklik vir n uitstappie teater toe of so iets bestem was.

Berge bedek my! Hoekom ek nie die verdekselse jas uitgetrek en opgehang het nie, kan ek nie verklaar nie. Feit is: ek het nie. En daar staan ek toe, arme stommerik, en stamel ‘n ekskuus vir my lompheid uit wat in my eie ore bra simpel en onoortuigend aandoen.

Sy was ‘n dame, hoor. Na die aanvanklike gilletjie toe die spulletjie op haar mooi tabberd omdop, was sy kalm en bedagsaam, selfs vertroostend. “Could have happened to anyone. Don’t know why they pack the place like this. Don’t worry. I’m ok, dearie.”

Diep beswaard het ek daardie vlesie afgewurg met my oë stokstyf op my bord vasgenael.

Van my gunsteling restaurant- stories is van die slim-vang-sy-baas-soort – waar ek, dankie tog, nie weer die gek is nie. Nou kyk, tussen al die carpaccios en coc au vins op die spyskaart van ‘n duur, pretensieuse restaurant moet ‘n man maar fyn trap dat jy nie ‘n ontnugtering op jou bord kry nie. (Onthou die be-roerde eier van nou anderdag!) Slim van sy baas voorwaar selde in ‘n verraderliker strik as wat so ‘n spyskaart in die hand van ‘n oningewyde is.

‘n Voorste Suid-Afrikaanse sakeman (Armani-uitgevat en Italiaans beskoen) het glo op ‘n slag ‘n deftige Amerikaanse kelner momenteel totaal uit die veld geslaan met sy bestelling van steak tartare – “well done”.

Die strikdasdraer het na ‘n oomblik se weifeling netjies uit die een gekom deur uitdrukkingloos op te merk: “For well done I would rather recommend our excellent sirloin, sir.” (Klem op die sir!)

‘n Suid-Afrikaanse egpaar met vakansie aan die Kaliforniese kus het by ‘n Meksikaanse restaurant ingestap en vol selfvertroue hul bestelling geplaas: “Two turkey sandwich todas, please.”

Die kelnerin was sigbaar nie op dieselfde golflengte nie.

Die vrou dag dis haar man se buitengewoon swaar Afrikaanse aksent wat vir die onbegrip verantwoordelik is, en herhaal stadig: t-u-r-k-e-y s-a-n-d-w-i-c-h t-o-d-a”.

Die kelnerin was steeds studie in verwarring.

Die man gryp toe weer in, wys met sy voorvinger na die bord by die restaurant se deur, en sê half ongeduldig: “We want that food.”

Die kelnertin se gesig verhelder dadelik. Taamlik dik van die lag, stap sy na die bord, tel ‘n “y” op wat op die grond beland het en sit dit op die regte plek. Die kennisgewing was eintlik bedoel om te lui: “Have you tried our turkey sandwich today?”

Maar terug na HvD. Ek was die eerste oggend aan onbyttafel in Ottawa, Kanada, nogal geskud deur die “dik tee” wat bra stadig uit die deursigtige fles in die koppie loop. Die onsekerheid was des te groter nadat ek melk en suiker bygevoeg het en sonder welslae die konkoksie probeer roer het.

“Kelner, kelner!”

“ Thick tea? No, man, actually it’s the maple syrup!”

Esdoringstroop op die ontbyttafel – dit het ek, in daardie stadium ‘n oningewyde in Amerikaanse ontbytgebruike, nie verwag nie.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comentarios


bottom of page