Statistieke wat ‘n Zimbabwiese vriend aanstuur, laat my sommer stukke beter voel. Dit het niks te make met daardie droewige buurlandjie se inflasiekoers nie, maar met die mensdom se begrip vir die tegnologie wat hulle veronderstel is om met die flinke druk van ‘n paar knoppies te beheer en beheers.
My vriend, Piet Henning, ou Tukkiemaat wat nou ‘n boerdery by Chiredzi bedryf (met al die geografiese ellendes wat dit meebring), is die trotse eienaar van ‘n gevorderde nuwe drarekenaar (“‘n skoottoppie met menige toebehore en uitdagings “, noem hy dit) nadat sy vorige te wyte aan Zimbabwe se kragmanewales die gees gegee het.
Hy staan oorweldig deur die tegnologie, rapporteer Piet, en is in diepe verleentheid oor sy karige kennis. Hy ondervind moeite om die nuwe kontrepsie te dryf .
In sy uur van nood lees hy in ‘n koerant dat 58% van die mensdom wat ‘n selfoon, rekenaar en ander digitalia opgradeer, nie die nuwe speelgoed kan hanteer nie. Hulle moet die hulp van slimmer vriende en tegnici inroep.
Hy voel beter nadat hy die berig raakgeloop het, sê Piet. Nes ek nadat ek bevoorreg was om dit uit sy hand te ontvang. (Piet hou nou op Louis Trichardt vakansie, as lesers dalk wonder oor Zesa en so!)
My eie frustrasie van die oomblik is nou wel nie rekenaarverwant nie, maar ek weet hoe ontoereikend Piet moet voel na Saterdagmiddag se affêre hier op Melkbos met die TV-stel ( ‘n heel basiese model) toe my genant Jacob (4), een van die tweeling-kleinkinders, vyf minute voor die afskop van die toets teen die Skotte op Murrayfield op die afstandbeheer ‘n knoppie druk wat hy nie moes gedruk het nie.
Jacob is slim met knoppies – hy’t n slim Oupa met ander dinge. Ek skrik dus eers nie groot nie. Tot ek Jacob se gesig waarneem. Die intense konsentrasie waarmee die eerste paar eksperimentele reddingsdrukke gedruk is, maak al hoe meer plek vir verdwaasde magteloosheid.
Ek gryp die toestel en begin wanhopig druk. Die klank bly weg. “Tokkie!” roep ek, en my vrou storm onverwyld uit die kombuis omdat sy dáárdie klank in my stem herken. Ook sy druk vergeefs. Naas en Kie babbel opgewonde, maar ons hoor zat.
Tokkie bel Jacob se vader, skoonseun Brent, wat van knoppies meer weet as sy skoonpa. (My vriend Chris van Rensburg het op Brent en Marisa se troue voorspel dat hy in daardie opsig vir die Van Deventers ‘n aanwins sou wees, en Chris was nie verkeerd nie.)
Brent verduidelik rustig: druk dié, dan daai. Tokkie herlei die opdragte na my wat vlakvoor die skerm stelling ingeneem het. Maar daar’s nie sulke knoppies op onse nederige ou dingetjie nie.
“Bel my op die selfoon,” hoor ek vir Tokkie sê. Die volgende oomblik gryp sy die affêrinkie uit my hand met ‘n omge-elliede “gee laa’k sien.” Ek kry amper lekker toe sy die nare ontdekking doen dat my taksering reg was. Sulke knoppies ontbreek inderdaad op ons model.
Wel, uiteindelik is ek boontoe, na ‘n kleiner skerm maar met die bonus van ‘n donkerder vertrek. Brent was al by sy motor om die 35 km hierheen te ry om sy seuntjie se brouspul te kom regmaak toe sy vrou, Marisa, hom keer. Seun Johan kry toe van sy suster ‘n S.O.S. en kom maak vinnig-vinnig reg wat verkeerd is. .
Jacob, wat intussen stil soos ‘n muis die konsternasie betrag het, en boetie Thomas wat uit simpatie ook sy tongetjie ingesluk het, kom later sluip-sluip boontoe om die voorspoedige verloop van sake by die kwaai Oupa te kom aanmeld. Toe’s ek egter lekker hardekwas. “Dankie, ek kyk sommer hier klaar”. En ek doen dit.
Vir ‘n dag of wat het Jacob sy hande tuisgehou. Toe oorweldig die begeerte hom en Tokkie betrap hom weer met ‘ n handkontrole aan’t werskaf. “Jacob, jy speel weer met knoppies,” vermaan sy.
Hy het net sy kop laat sak. Toe kry hy ‘n ingewing: “Ouma, hou net my handjie vas.” Met haar ingebind in die proses en derhalwe mede-verantwoordelik vir wat ookal gebeur druk hy toe vinnig sy drukke met die ander hand – maar hierdie keer gelukkig sonder enige krisis.
Die storie eindig gelukkig. Wel amper. Die skerm is nog so donker dat dit elke aand lyk of Sewende Laan in die skemer afspeel. Maar Sondag kom Brent gelukkig.
Laat ek darem ook my eie stert prys. Hierdie week gaan soek ek raad by ‘n ekspert hoe om van die bonte redigeringsgeskiedenis op ‘n Wordsdokument ontslae te raak. Die ekspert bely sy onkunde. Ek kom huis toe en klik twee klikke. Die tweede bring my by die opsie: “accept all changes in document”. Voila – weg is die spul onsin wat my dokument soos Bloedrivier laat lyk het.
Mos gesê Jacob het ‘n slim Oupa!
留言