top of page
Uitmelkbos

HULDE AAN ‘N UITGESTORWE SPESIE

As ou Nottie (Danny Nothnagel) maar kon weet hoe sy dood die herinneringe oor die era van die teleks sou laat vloei! Volksblad-kollegas herinner my o.m. aan ons eie tweemanskap, Bennie Lean en Smittie, wat jare lank in Voortrekkerstraat 79, (nou Mandelarylaan), Bloemfontein, vir die ontvangs en versending van telekskopie verantwoordelik was.

Nie dat ek hulle vergeet het nie. Die ernstige Bennie (met die swak sig) en die lewensblye Smittie (met die permanente glimlag) was sleutelmense en twee van die karakters van hul era. Sal ek ooit Bennie se gesig vergeet toe hy op 6 September 1966 net na saktyd sy kop deur die luik tussen die telekskantoor en die subkantor steek met die flitsberig in sy bewende hand: “Verwoerd killed by knife (sic) in Assembly.”

Die “by knife” kan seker verklaar word as ‘n verskoonbare taalglipsie in ‘n warboel-oomblik deur een van Sapa se Afrikaanse mense. In daardie span was o.a. ‘n Classen, ‘n Postma en ‘n Van der Merwe!

Ek was daardie tyd hoofsub van Die Volksblad en het net behaaglik agteroorgesit met die salige saktyd-gedagte van: “Nog ‘n slag is gelewer.” Die flitsberig (“snap”) in Bennie se hand het my egter soos ‘n snaar laat orent spring. Van die mees dramatiese, emosioneel-uitmergelendste en pakkendste ure in my koerantloopbaan is daarmee ingelui.

Onmiddellik het die redaksie in volle versnelling oorgeskakel. Die voorblad is, in koeranttaal, “skoongemaak”. Dit beteken alle voorbladberigte is na binne geskuif. ‘n Nuwe voorblad het tot stand gekom met ‘n hoofartikel deur wyle Bart Zaaiman, toe nog assistent-redakteur (Hugo Dreyer was redakteur-bestuurder), en met die groot banier in houtletters (gewoonlik net vir die uitbreek van ‘n oorlog gehou): Dr. Verwoerd vermoor.

Ons Parlementere span, onder aanvoering van wyle Alf Ries, het vinnig berigte begin lewer. Wyle J.J.J. Scholtz het ‘n aangrypende indrukke-storie bygedra.

Die uwe het seker ‘n halwe pakkie Rembrandt Van Rijns opgerook en nooit weer daardie middag gaan sit nie. Die koerant en ‘n daaropvolgende spesiale uitgawe (banier: Land is diep geskok) is staan-staan uitgegee. Toe ek die aand by Tokkie se kamertjie in die VSA-gebou instrompel, was ek absoluut gedaan.

Nog ‘n onvergeetlikheid was die skare wat verslae in Voortrekkerstraat begin saamdrom het, gretig vir die varsste nuus. Koerante was toe nog part en deel van die vesel van hul gemeenskappe. En natuurlik, Bennie Lean wat toegewyd die instromende berigte bladsy vir bladsy van die teleks skeur en sekuur in die hoofsub se mandjie laat beland – selfs met wenkies soos: “Hierdie lyk na ‘n goeie inlei vir die hoofstorie”!

Dankie aan al die kollegas wat na Nottie se dood, my blog daaroor en my brief in vanoggend se Burger herinneringe kom deel het. Dankie, vriend Herman le Roux, wat met jou kenmerkende reikwydte jou net oor ‘n hele span telekskollegas gesprei het – en daarmee opnuut beklemtoon het hoeveel karakters ons in ons lewens daar agter die kletterende teleksmasjiene aangetref het:






Hennie,

Dankie vir jou blog oor Nottie.

Ja, teleksmanne is ‘n uitgestorwe spesie. Maar daar was teleksmanne en daar was teleksmanne.

Net ons sal besef hoe ‘n belangrike rol hulle by die koerant gespeel het. Die eerste siele wat besef dis ‘n moerse (een van HleR se geliefkoosde uitdrukkings – HvD) storie en haastig ‘n stuk papier afskeur en reguit na die nuusredakteur of hoofsub hardloop – soos met die moord op Hendrik Verwoerd of ‘n Boeing wat neergestort het.

By Volksblad was Bennie Lean en Smittie goud werd. By Oosterlig het Ina van Rensburg, jonger suster van Connie Kellermann, Alex se vrou, die rol vervul.

Met rugbytoere het Fingers van der Merwe die oorsese rugbyskrywers se kopie in ‘n japtrap weggestuur.

Met my besoeke aan die Kaap is my kopie versend deur Nottie en Blom (kan nie sy voornaam onthou nie, maar ek onthou hy het onder die skuilnaam Katrol ‘n hengelrubriek vir Die Burger geskryf). Sonder om te kla of onwillig te lyk, het hulle die bladsye ontvang en tussen al die ander werk na Volksblad en Oosterlig gestuur.

In die Randse kantoor van Naspers het Willem Tenner (voorheen van Sapa) reuse-werk verrig. Hy woon in Edenvale en ek weet dat hy en die Theunissens, Roelf en Rina, huisvriende geword het. Toe ek en Rina jare gelede by Rina gekuier het, het sy ook die Tenners vir middagete genooi.

By Beeld was die groot karakter Whitey Odendaal die siel van die telekskantoor. Oor hom kan kollegas boeke skryf. Ek en George Boshoff het hom op sy sterfbed in ‘n hospitaal besoek en dit was tragies om daardie op-en-wakker-kêrel so in ‘n bondeltjie te sien lê.

Sy kollega in die telekskantoor, die veel jonger Johan Reitz, onthou ek as die grootste Blou Bul-ondersteuner naas Quintus van Rooyen.

Wou sommer net met jou oor hierdie manne en meisie gesels..

Groete,

Herman

Die son sak inderdaad op ‘n era. Die Ewige Verandering duur voort.

HvD

0 views

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor...

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n...

Comentários


bottom of page