Op ‘n dag het ek ‘n brief van Bybelkor ontvang, koelbloedig gerig aan “Geagte Mnr. Van Deventer ‘Pens'”. Waarop ek toe aan ds. Hans Linde, Uitvoerende Direkteur, terugskryf: “U skryf aan my as ….’Pens’. Ek kan kategories stel dat ‘Pens’ (met of sonder aanhalingstekens) nooit deel van my van was nie. Ek is ook onbewus van so ‘n bynaam, hoewel dit uit ‘n fisieke hoek nie misplaas sou wees nie.”
Die liewe ds. Linde skryf toe in alle erns terug: Die vlaggie ‘Pens’ verskyn agter meer as een naam op ‘n adreslys wat van ‘n ander instansie ontvang is. Hy vermoed dat dit ‘n aanduiding is dat die betrokke persoon ‘n pensioentrekker is.
Inderdaad, ds. Linde, inderdaad! So was dit op Huisgenoot se adreslys wat daardie vabonde blykbaar aan die kerk staan en verkoop het. En dis reg: Die vlaggie ‘Pens’ beteken pensioentrekker. Maar ek was darem nie regtig omgekrap nie.
Hierdie storie word weer opgediep met verskuldigde ekskuse aan almal wat dit tevore gehoor of gelees het. Dit bly vlak in my geheue. As iemand jou so aan die “pens” vat, vergeet jy dit nie sommer nie!
Maar hoekom dit hier ophaal? Die sleutel vind u, geagte leser, in die laaste lyntjie van die inleidingsparagraaf: dat so ‘n bynaam vir die uwe “uit ‘n fisieke hoek nie misplaas sou wees nie.” So was dit in 2002 toe daardie briefwisseling plaasgevind het. So is dit – spyt my waternat om dit te bely – des te meer die geval hier op die rugkant van 2008. Daardie bynaam sou inderdaad uit ‘n fisieke hoek al hoe minder misplaas gewees het!
Om ‘n pensioentrekker te wees met ‘n “pens” beïnvloed ‘n hele paar dinge. Een is die soort leesstof wat my trek. Oor enige vorm van mode-artikel raak ek moeilik gaande. Om in die mode te wees, is immers hoegenaamd nie een van my ambisies nie en gerief tel bepaald meer as voorkoms.
Toe lol my liewe gade ‘n ruk gelede om my aandag op ‘n uitspraak van n tydskrif se moderedaktrise te vestig. Ek was terstond die herrie in. Die nooientjie beweer naamlik ewe beterweterig en uit die hoogte hoe ‘n verskriklike mode-nee dit is vir ‘n lywige man om ‘n broek met ‘n rek om die middel te dra – en dit juis in ‘n stadium dat ek hoopvol van winkel tot winkel loop om my voorraad van heerlik, gemaklike rekbroeke aan te vul.
“Weet daardie poppie watse gesukkel dit is om ‘n gordel op sy plek te hou as jy so lyk,” ontplof ek. “Jy moet net heeltyd bly rem, want die ding voeter gedurig om af te sak.”
Almiskie, sê my vrou, dit is wat hier staan en dis nie ‘n hierjy-tydskrif nie. Sy wil nou nie kant kies nie, maar sy dink die “poppie” het tog ‘n punt. “Wat van kruisbande as ‘n gordel dan so lastig is?”
Nou kyk, ek is nie anti-kruisbande nie. “Een joviale man in bretels,” het ‘n Hollandse joernalis my by geleentheid genoem (bretels bedoelende kruisbande, soos ek later vasgestel het). Maar kruisbande is vir my so half formelerig – 100% by ‘n pak klere of selfs by ‘n sportbaadjie, maar vreemd by byvoorbeeld ‘n braai of in die bos. Vir daardie doeleindes is ‘n rekbroek tops,
Buitendien glo ek dis darem erg voorbarig van jong dingetjies met slanke lyfies om vir ouer mense met gesette posture oor hul klere te kom voorskryf. Veral nog as dit ‘n dametjie is wat gesette omies wil reg help. Wat weet ‘n meisie nou van die ongemak wat ‘n glyende gordel om ‘n boeremaag meebring (as jy ‘n gordel kry wat lank genoeg is) of hoe swaar jy ontspan as kruisbande om jou kouers knel?
Ek vra ook: wat dra die vroulike geslag by hul deurtrekkertjies en ander goetertjies? Rekkies natuurlik – of so vermoed ek, altans. Van ‘n G-string met ‘n gordel of kruisbande het hierdie omie nog nooit gehoor nie. Dan wil hulle hul fraai bekkies oor ons kom rek.
Amper wen daardie modemeisie toe die argument by verstek, want die soektog na rekbroeke word uiteindelik ‘n uitgerekte en ontnugterende operasie. Winkels het dit eenvoudig nie meer op die rak nie.
Maar net toe ek wil moed opgee, sien my vrou – in ‘n tegemoetkomende luim –
‘n advertensie raak vir wat die vervaardiger as “avontuurdrag” bestempel. Wel, avontuur of nie avontuur nie, die broeke het rekke om die middel – en hulle kom van 3X tot 7X, net soos die dokter ge-“order” het.
Ek spring toe in my motor, ry amper die volle breedte van die Skiereiland en koop vir my twee nuwe “avontuurbroeke”. Hulle sit heerlik. So “whê vir die modepoppie. Moenie jou bekkie oor my rek-kie, meisiekind!
Die laaste woord behoort aan een van die kleinkinders (4) wat uit die bloute wil weet: “Is oupa vet?” Oupa erken dat sy maag neig om buitensporig groot te wees. Daarop die kinderlike wysheid: “Hoekom gaan Oupa nie toilet toe nie?”
Ai, my kind, as dit maar so maklik was om n paar kilo’s af te skud. .Dan het Oupa daar tent opgeslaan. In sy kas hang immers ‘n paar deftige broeke, Pierre Cardin en so, wat ongelukkig ‘n gordel of kruissbande vereis. (HvD)
Σχόλια