top of page
  • Uitmelkbos

HIËNAS OM ‘N GEKWESTE BOK

In ‘n onthutsende hoofstuk in sy e-boek, Kannie is (lankal) dood, lig kollega Piet Theron, veteraan-joernalis van die Vrystaat, die sluier oor hoe sy seun, Pieta, ná breinskade weens ‘n onverskillige operasie deur gewetenloses uitgebuit is. Watter skok vir sy eienaars toe hulle uit die mond van ‘n prostituut moet verneem dat ‘n “belegging in ‘n meubelfabriek” weens ‘n gekonkel in ‘n bordeel gestort is.

In ‘n skrynende hoofstuk met die veelseggende titel Hiënas om ‘n gekweste bok ontmasker Piet ‘n hele reeks mooiweersvriende en opportuniste se verbysterende wandade jeens die goed vertrouende Pieta. Erge professionele argeloosheid en agtelosigheid kom aan die lig.

Kannie is (lankal) dood is Piet se memoires van ‘n veelbewoë lewe. Veral drie hoofelemente kom sterk na vore: die beproewende tog met Pieta, ‘n harde plaaslewe in die Wes-Vrystaat wat die Theron-familie gestaal het – onder meer in ‘n nare potjie met builespes – en sy kleurryke loopbaan as Volksblad-joernalis met top-stories op sy kerfstok.

‘n Hoofstuk Ongeluksvoëls, vertel van ‘n rits ongelukke, teenspoede en terugslae wat oorkom moes word. Die ergste dal waardeur hulle is, was ongetwyfeld die ontsettende lyding van Pieta nadat n doodgewone blindedermoperasie weens mediese onbeholpenheid skeefgeloop het. Pieta het ‘n ernstige epilepsielyer geword wat later n valhelm moes dra om hom teen kopbeserings te beskerm wanneer hy val. Tot veertien keer op ‘n dag het die stuiptrekkings hom platgetrek.

Hy het sy werk verloor, sy huwelik, sy kinders, mettertyd al hoe meer ook sy spraak en uiteindelik ook sy onafhanklikheid. Hy kon nie meer motor bestuur of in enige opsig die normale lewe van n man van sy jare lei nie. Pieta, die vader van twee, was skielik weer Piet en Petro se “groot baba” totdat hy op 38 oorlede is.

Die skuldige dokters moes ruim skadevergoeding betaal. Niks kon Pieta en sy ouers, Piet en Petro, egter vergoed vir die dekade van hel wat daarna vir hulle aangebreek het nie. Om die verhaal met al sy kronkelweë te volg, kan nie anders as om die leser ‘n beklemming om die hart te gee maar ook met groot deernis en bewondering te vervul nie.

Piet se loopbaan by Die Volksblad het half terloops begin. Hy – die amper onwaarskynlike joernalis – het tot topposte gevorder en as assistent-redakteur afgetree. Hy sonder as hoogtepunte uit: die Duiwelspiekramp tydens die Republiekfees in Mei 1971, die ineenstorting van die woonstelgebou Tempest in Welkom in 1976, die terreuraanval op Sasol in 1980 en die sogenaamde Brugberaad op die Zambezi in 1975.

Piet was daar, op die toneel of intens betrokke in die hitte van die stryd. Sy boeiende vertellings sal die drukkersink in die are van elke joernalis of oud-joernalis opnuut laat tintel.

HvD en Piet Theron, studentemaats, woonstelmaats en kollegas, op Melkbos se stoep.

In Kannie is (lankal) dood is ook verskeie juweeltjies en kamees, soos oor die ongewone blitsromanse met die spogatleet Petro du Plessis wat sy vrou geword het. Plek-plek in die boek lyk Piet soos ‘n bakleier; hy was klaarblyklik ook ‘n bobaas-vryer!

Bestel die e-boek by De Novo Boeke by die volgende skakel:

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Comments


bottom of page