Die eerste dag van 2009 het hier in Sabiepark aangebreek met ‘n troppie rooibokkies wat rustig voor ons kamervenster wei; die ge-zoem van ‘n swerm bye in die haak-en-steek by die hoek van die swembad wat amper oornag oortrek geraak het met fyn, wit blommetjies; ‘n piet-my-vrou wat immer hoopvoel bly roep, en die Sabierivier wat nog sterk druis op sy kronkelpad Mosambiek toe na die wonderlike reën in die Laeveld.
Op die program vir Nuwejaarsdag is ’n klein vuurtjie in die skaduwee van die groot maroela voor die huis en ‘n worsie op die rooster opgekikker met ‘n koue wit wyntjie. Klink dalk onmerkwaardig – vir ons is dit hemels.
Oujaarsaand is ‘n tjoppie, ‘n broodjie en ‘n kaasworsie gebraai (‘n spesiale bederfie vir die vierjarige tweeling, Jacob en Thomas) en in die swembad uitgelate “ring-a-ring-a-Rosie” gespeel. Eweneens hemels.
Oujaarsdag is ook my en Tokkie se troudag. Gister is nommer 42 herdenk. Haar keuse vir ‘n spesiale aktiwiteit was om met ‘n fles koffie en ‘n broodjie by Lake Panic te gaan sit. Onder die voël-weelde was die sku en skugter woudapie – ‘n ligte, amper bleek, klein rietduikertjie wat ‘n mens selde sien.
Later is Onder-Sabie toe en via die Salitjepad terug. Hoofmoment was ‘n trop olifante, 30 of so, wat die teerpad oorsteek naby die Sunsetdam. Op die Salitjepad het ons meer kameelperde (en in groter groepe) as in ‘n lang ruk gekry, verskeie plat op die grond. Net die lang nekke steek bokant die ruie gras uit.
‘n Vreemde gesig op die rit was die hope duiwe in klein groepies soos ‘n erewag in die bome langs die Salitjiepad (ja, duiwe, nie troupante nie!). Kan iemand lig werp op wat dit beduie?
Uit die rapport blyk dit seker dat wildbesigtiging nie hierdie vakansie juis groot hoogtes bereik nie. Die bosse is eenvoudig te ruig. Dit het nie om dowe neute 15 dae in hierdie geweste geverg nie voordat ons Dinsdag ons eerste Vyf Grotes kon afrond met ‘n maanhaar op die Doispanepad.
Die ou grote was ‘n laat ontbyt aan die geniet aan ‘n impala wat hy by ‘n agtelosige luiperd gegaps het. Die luiperd het pas met moeite sy prooi in ‘n boom gehys, net een happie gevat en toe eers gaan rondloop. Toe hy terugkom, het Mnr. Maanhaar grommend eiendomsreg oorgeneem.
Die luiperd het vies in ‘n boom sowat 50 meter sy wonde gaan lek. Dit is waar ons hom gesien het. Later, nadat ons ons pad tussen al die motors oopgebeur het om die vretende leeu in aksie te sien, is ons op aandrang van die tweeling terug om die luiperd uit die boom te sien klim. Toe beloon hy ons moeite. Die opgewondenheid was groot toe hy met ‘n grasieuse sprong op die grond land.
Ons was waarskynlik net tien minute of ‘n kwarter te laat om die maanhaar oor die pad te sien stap en die impala uit die boom te ruk. Maar 10 minute kan in Wildtuinterme ‘n lang-lang tyd wees!
Die hordes klein dartelende rooibokkies sorg gelukkig konsekwent vir plesier.
Op voëlgebied is dit ‘n vrugbare besoek. Buiten die woudapie, het ons ook al die skaars wit ooievaar gesien, trouens twee keer op een dag. Drie baie spesiale voëlwaarnemings was twee saalbekooievaars wat doodluiters saam voortmarsjeer op die teerpad – waarheen weet niemand nie; ‘n bruin slangarend met ‘n vet murgbeen (ook op die teer), en twee vorstelike breëkoparende in ‘n boom teenaan die pad.
Swerms rooibek-kweleas is volop. Ons het so naby aan ‘n troupant stilgehou dat ons kon sien hoe hy hortend in die hitte asemhaal. Die kap-kap-geluid wat hy maak, het ek nie voorheen gehoor nie.
By die huis het die skerpioene hulle gevestig as Gevaar Nommer Een van hierdie vakansie. Hulle skuil oral in donker hoekies. Die teenwoordigheid van “oorkruipers” (hulle kruip nie regtig in mense se ore nie) het die kinders die kans gebied om avontuurlik te raak en hulle met ‘n toutjie van die grond te “vis” voordat hulle in die veld losgelaat is. Die groot verskeidenheid motte wat saans lig kom soek, is van die mees onwelkome gaste, so ver dit die kinders aangaan.
Die veldlikkewaan wat kom water drink, dra ‘n ongewone element by tot die lewe in die veld. Die nagapies kruip skemer na skemer uit Johan en Mariza se neste hoog teen die nok. ‘n Bosnagaap kondig gillend sy besoeke aan. Die duikertjie wat Witnek se skoene moet volstaan, is klaarblyklik ewe lief vir pitjies, maar is nog glad nie gemaklik met mensegeselskap nie. Hy verkies die kombers van die donker.
Comments