top of page
  • Uitmelkbos

GESEëND IS DIE SAGMOEDIGES


Wie is die “sagmoediges” oor wie in die Bergpredikasie ‘n saligspreking (seën)  uitgespreek word?  Is hulle ekskuus-dat-ek-leef-mense, papperds? Dr. Hennie Swanepoel van die NGK Melkbos meen dat so ‘n persepsie van ‘n “sagmoedige” nogal wyd bestaan. Hy preek oor Matteus 5 in sy Pinkster-reeks.

 Die begrip “sagmoedig” interesseer my uitermate.  C.J. Langenhoven, een van die grootste geeste in Afrikaans en bekendste Afrikaanse rubriekskrywer van sy tyd, het meer 80 jaar gelede in Die Burger onder die skuilnaam “Sagmoedige Neelsie” geskryf.

 Kannemeyer wys in sy Langenhoven-biografie daarop dat “Sagmoedige Neelsie” ‘n ietwat misleidende naam was – net soos die naam van sy rubriek “Aan stille waters”.  Neelsie kon skerp, kwaai en strydvaardig wees – veral oor taal en politiek.  Hy het die waters geroer. Van hom sou jy ook amper kon sê (soos van ‘n latere kollega, Willem Wepener)  dat die sagste deel van sy lyf sy tande was!  

 “Sagmoedig” is klaarblyklik deur Langenhoven speels of satiries bedoel. Maar vergeet dit dat Neelsie se alter-ego in sy eie oë ‘n ruggraatlose papperd sou wees. Eerder is die denkbeeldige Neelsie ‘n minsame kêrel, iemand van wie jy nie kan help om te hou nie, ‘n  “teddiebeer”.   Dit sou klop met die oorspronklike betekenis van die woord in Afrikaans, soos o.m. in die HAT (Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal) opgeteken is: “Sag van inbors, saggeaard, minsaam”.

 Wanneer in die Bybelvertaling van 1933 verwys word na die “sagmoediges”  wat salig is en die aarde sal beërwe, is dit – na my insigte – ook met so ‘n positiewe betekenis daaraan geheg. Dit is eers daarna dat “sagmoedigheid” in die volksmond algaande ‘n negatiewe konnotasie begin kry het. Sulke wanpersepsies het ontstaan soos dat ‘n “sagmoedige” iemand is wat nie murg in sy pype het nie, wat nie sy man kanstaan nie, wat ander op hom laat trap, ens.

 Miskien moes die Bybelvertalers van 1983 sensitiewer gewees het vir hierdie geleidelike betekenisverandering van die woord, en liefs ‘n alternatief bedink het, soos Jan van der Watt en Stephan Joubert wel doen in Die Boodskap – die Bybel in Hedendaagse Afrikaans.  Hulle vertaal Matteus 5:5 soos volg: “Gelukkig is almal wat nie dink dat hulle belangriker as ander mense is nie.”  “Sagmoedigheid” kry by hulle die betekenis van nie-hoogmoedig, nie-verwaand, nie-hovaardig, nie onaantasbaar in eie oë.

 Persoonlik hou ek baie van die boodskap van Die Boodskap. Gelukkig is die mens wel wat sy eie beperkinge besef – wat, soos dit in Matteus 5:3 so mooi gestel word:  “….. weet hoe afhanklik hulle van God is.”  As jy “sagmoedigheid” in hierdie positiewe sin verstaan, vorm verse 3 en 5 ‘n kosbare eenheid soos twee skakels van ‘n ketting, en verstaan ‘n mens sommer die betekenis van die hele Bergpredikasie ook beter:  Dat in al die verse maar eintlik van dieselfde soort regskape mense gepraat word., dink ek.

1 view

Recent Posts

See All

Probleme probleme

Die hoop het toe nie beskaam nie. Rapport het afgelope Sondag vorendag gekom met ’n noemenswaardige resensie – Trisa Hugo se skrywe oor Veldhospitaal 12, die nuwe roman deur Marinda van Zyl. Boek24? W

SKOONHEID SONDER SKROOMHEID

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesighe

Comments


bottom of page