Koos Kombuis skryf oor Tant Pompie se oorlog, deur Deon Lamprecht. (Boeke24) Ek lees altyd lekker aan meneer Kombuis se resensies. Hy het die gawe van die twee oë – een met ’n vonkel van humor, die ander effe blink van meegevoel met sy naaste. Mens tref dit dan ook mild aan in hierdie resensie. Aanvanklik effens stuurs, op ’n afstand. Maar dan begin die mense hom aanspreek, sien hy die fyner nuanses van Lamprecht se vertelling raak, en sleep hy jou as resensent die problematiek binne. Wat hy van die boek maak, is uiteindelik ewe interessant. Hy sien in dat die destydse grensoorlog nie veel verskil van die plattelandse lewe in hedendaagse Suid-Afrika nie. Dis ’n groot mondvol, en hy is as resensent bedrewe genoeg om jou ten volle te oortuig. En nog nuuskierigheid vir die boek self oor te hou.
Erika de Beer skryf oor Liefde in die kwepertyd, deur Dot Serfontein. (Boeke24) Normaalweg skenk ek nie veel aandag aan resensies van heruitgawes nie, maar Erika de Beer s’n van Liefde in die kwepertyd verdien vermelding. Sy stel pertinente vrae oor die redes vir dié publikasie, tereg so, omdat sy gevind het dat die keiserin kaal staan. Hopelik sal haar laaste vraag aan die uitgewer nie onbeantwoord bly nie. Miskien moet die resensente van ander heruitgawes ’n blad uit De Beer se boek neem.
Riaan Grobler skryf oor Sonde van Lusinda, deur Anton Schoombee. (Rapport Boeke) Mens moet rats wees om ’n beoorlike tong-in-die-kies resensie te skryf. Die gevaar is altyd dat jy nie die tong sy gewone werk ook laat doen nie. Riaan Grobler het hier sy humorskote netjies gekies, en trek dan terug om die nugter kritiek voort te sit. Maar hy gee elke nou en dan toe aan die versoeking – as mens oor seks in literatuur skryf, is dit feitlik onmoontlik om die versoeking van dubbelsinnighede en woordspelings te vermy. Grobler vind plek om die boek te weeg en sy swakhede uit te pluis, naas die sterker elemente. En dan sluit hy met ’n finale baldadigheid.
Comments