Alexander se maat probeer hom optel. (Foto: Beeld)
In die Krugerwildtuin het mans, vroue en kinders “getjank dat die water rol” oor die dood van die olifantbul Alexander – een van die wildtuin se grootste ivoordraers. Eintlik het die trane emmers vol gerol oor die ontroerende afskeid van ‘n vriend wat agtergelaat is.
Dié het, aldus die noordelike dagblad Beeld, aasvoëls en hiënas van Alexander se karkas probeer verdryf, sy gevalle vriend met sy tande probeer optel en – toe dit misluk – op hom gaan sit en hom met urine probeer “laaf”.
Beeld het met meesleurende berigte en pragfoto’s oor die natuurdrama berig. Die Burger, hier in die Kaap, het die menslike storie (“human interest” op sy allerbeste) onverstaanbaar en tot sy eie skade afgeskeep.
Dat die dood in olifantgeledere nie sommer net ‘n onvermydelikheid is wat vinnig oorwaai nie, word keer op keer opnuut onderstreep wanneer toeskouers – soos nou met Alexander se vermeende hartaanval naby die Mopani-ruskamp – bevoorreg is om dié sensitiewe diere se “begrafnisrituele” te sien ontvou.
Toe ek ‘n jong joernalis was, in die jare sestig, het die sage van Hapoor en Ouma in die Addo-olifantpark mense aangegryp. Toe Ouma sterwend was, het Hapoor haar die genadeslag toegedien deur die haar brein met sy tand te deurboor.
My kollega Ollie Olwagen, skepper van allerlei liedjies en versies, het ‘n liedjie daarvan gemaak: “Hapoor steek vir Ouma dood, van die wal tot in die sloot…” Na ‘n paar biere het ons dit uit volle bors gesing. Drank kan ‘n mens simpel maak!
Met my eie oë het ek nog nie sulke olifant-smart soos dié van Alexander se verpletterde vriend beleef nie. Na ure se waarnemings van olifant-gedrag van Sabiepark se uitkykdek langs die Sabierivier af en heelwat naleeswerk klop die gebeure naby Mopani egter absoluut met wat ek sou verwag het.
My olifantboekie, Mayafudi (ook in Engels oorgesit as Mayafudi – memories of an elephant) het ek beskryf as die “die produk van eie waarnemings, naleeswerk, vertellings, verbeelding en romantisering”. In die boekie is die fiktiewe dood van onder andere Mayafudi se ma, die matriarg Ukuthula (Vrede van binne), en sy tweelingsuster, Nkosikazi (Klein prinses), sentrale elemente.
Na Alexander se dood het ek Mayafudi van die rak gaan haal.
Die afskeid van Nkosikazi word soos volg beskryf: “In somber eerbetoning stap die oorlewendes van die trop later stadig om en om die slagoffers, hul slurpe hoog gelig asof in ‘n laaste saluut. In ‘n koor galm hulle hul bewoënheid uit. Daarna begin die slagspanne om die karkasse op te sny en te bewerk. Die olifante slof verwese weg. Hulle kyk nie weer om nie. Wat verby is, is verby.”
Toe die matriarg haar kop neerlê, speel ‘n veel omvattender ritueel hom af: “Haar trop vorm in broeiende stilte ‘n sirkel rondom haar soos ‘n ondeurdringbare ringmuur. Hulle loop stadig, doodstadig, twee keer om en om. Dan steek hulle onseker vas.
“‘Die bejaarde Moholoholo (haar man) tree na vore en streel die groot lyf stadig met sy slurp. Dit is soos in ‘n rituele slurpoplegging. Groot teerheid straal uit die aanraking. Daar is iets sags in die skuur van sy growwe vel teen hare.
“Mayafudi se emosies is in ‘n warboel ….. Die volgende oomblik is dit of ‘n vreemde mag hom beetpak en vorentoe druk. Hy onthou hoe Ukuthula baie jare gelede ‘n vasgekeerde renostertjie in die modder te hulp gesnel het, Net so druk hy nou sy tande versigtig onder sy moeder se kop in. Hy beur met mag en mening. Hy kry haar egter nie opgelig nie.
“Net langs die ooptetjie waar Ukuthula se bene onder haar geswik het, is ‘n opgeskote maroelaboom. Mayafudi stroop ‘n slurp vol takke en blare van die boompie af en probeer die groenigheid in die koei se mond indwing. Dit lok geen reaksie uit nie.
“Hy sien hoe ‘n jong kalfie, een van sy halfbroers wat ‘n noue band met Ukuthula gehad het, nader kom. Hy probeer hom in die beskermende holte tussen sy ouma se voorbene inwurm asof hy melk soek. Ook hierdie poging om tot haar deur te dring, is vergeefs. Die ou olifant lê net, bloedbevlek en doodstil.
“Asof iemand ‘n bevel gegee het, beweeg die res van die trop skielik ‘n entjie agtertoe. Mayafudi, sy vader, Moholoholo, en ‘n ouer suster, Matcheleni (Die Spoggerige Een) bly alleen by Ukuthula agter, volgens instinktiewe olifant-protokol. Dit is die naastes se intieme afskeid.
“Die ander olifante keer die rug op die troostelose toneeltjie asof hulle nie kan verduur om dit langer te aanskou nie. Hul slurpe hang lusteloos grondwaarts – ‘n teken van hul diepe hartseer en rou.
“Ook die drie naasbestaandes by haar draai na ‘n laaste kyk in Ukuthula se rigting en ‘n laaste druk met hul slurpe om dat hulle heel van haar wegkyk. Die een na die ander gee dan ‘n tree terug en raak haar vlugtig aan met ‘n swaaiende agtervoet. Daarna kry die trop kans om die laaste eer te kom bewys. Die roubeklaers pluk bondels blare en gras. Hulle werp dit op en rondom die karkas soos kranse….” .
Hoekom ek die drang ervaar het om Mayafudi te herbesoek? Sekerlik nie met die oog op bemartking nie. Die boekie is in ieder geval gratis te lese op my webwerf, www.hennievandeventer.com Beskou dit eerder as my huldeblyk hier van ver aan Alexander en sy vriend, en ‘n persoonlike saluut aan die hartstogtelikie olifantliefde wat ons deur hulle opnuut geopenbaar gesien het.
Comments