Die mense dans in Kenia se strate. Google antisipeer ek soek inligting oor “Barack Obama’s Kenyan birth certificate” as ek net sy naam alleen intik. Maar tog sê Robert Schrire gisteraand op die SABC se nuus Obama het so baie probleme om in sy eie land op te ruim dat as hy vyftig sake op sy prioriteitslys het, Afrika (en Suid-Afrika) waarskynlik sewe-en-veertigste op die agenda is.
Eintlik verwys hierdie bloginskrywing nie na Obama se kleur nie. Dit verwys na die feit dat Obama nie in isolasie staan nie. Die Keniaanse verbintenis is een voorbeeld. ‘n Ander ding waarvan Obama hom nie kan losmaak nie, is die wêreld se persepsie van Amerika. Mense uit verskillende lande sal hom haat of hom as rolmodel sien op grond van die vlag met sterre en strepe daarop. As mens jou in Istanbul se strate begewe, begin die kelners vanuit die restaurante in Engels vir jou skree dat hulle alkohol bedien en Amerikaanse dollar aanvaar. Aannames word gemaak. Obama dra ‘n hele wêreld se stereotipes op sy skouers.
Vanoggend gesels ons oor Obama by ons kantoorvergadering. Party van die redaksielede voel die Amerikaanse verkiesing raak hulle nie. Ander het dit gevolg. Ons is amper in twee kampe verdeel, nes die twee-party-stelsel wat in Amerika heers. Maar ek het ‘n gevoel ook ons kan ons nie heeltemal losmaak van wat in Amerika gebeur nie. Of wat in Ierland gebeur nie of Tibet of Lapland of waar ook al. Als het mos maar rimpeleffekte op die menslike poeletjie.
Maar vir my is die aspek binne sy politieke konteks waarvan hy hom die minste kan losmaak, Obama se vaswees aan sy voorgangers. Ek het my geheue gekry van Ronald Reagan se dae af. (En hoe vás was hy nie, uit ‘n Suid-Afrikaanse politieke konteks gesien, ook aan Margaret Thatcher aan die ander kant van die aardbol nie.) Toe was daar Bush – en ná hom Clinton. Vir baie mense was Clinton ‘n vars bries en ‘n Amerikaanse vriendin van my meen hy is die wonderlikste man op aarde. Haar naam is, terloops, nie Monica Lewinsky nie. George W Bush is egter die man van wie Obama hom die minste kan losmaak, nes Mbeki hom ook nie van Mandela kon distansieer nie. Hoe op aarde kry mens dit reg om ‘n nasie te lei as jou voorganger ‘n ikoon was? Vir Obama was die teenoorgestelde natuurlik waar. Hy wat Obama is, het geklink soos die orator waarvoor die wêreld gewag het vier jaar gelede.
“If there is anyone out there who still doubts that America is a place where all things are possible; who still wonders if the dream of our founders is alive in our time; who still questions the power of our democracy, tonight is your answer.” (4 November 2008)
Maar mens voel onafwendbaar nou sinies as jy hierdie woorde lees. Want ons almal se geheue is nou beïnvloed deur alles wat sedert hierdie toespraak gebeur het – dis vir ons onmoontlik om op dieselfde manier na gebeure van die verlede te kyk.
Die wêreld het verander. Ons ook. Dalk gaan hierdie inskrywing oor ouerskap, oor almal wat voor ons was van wie ons nooit kan losraak nie, al skop en skree en baklei ons. Dis nou ons wat toe nooit prinsesse geword het nie, al het ons as klein dogtertjies daarvan gedroom.
En ook die ware royalties.
Vir altyd vas
aan wat was.
Groete, Naomi M
Comments